CVO-skool Potgietersrus, MECS spog met ‘n 100 % slaagsyfer
Die glimlagte van die matriekulante van die CVO-skool Potgietersrus en die Mokopane English Combined School (MECS) is breed en die vreugdevure brand hoog want hulle het almal matriek geslaag.
MOKOPANE – Die glimlagte van die matriekulante van die CVO-skool Potgietersrus en die Mokopane English Combined School (MECS) is breed en die vreugdevure brand hoog want hulle het almal matriek geslaag.
Die twee skole wat se leerders die onafhanklike eksamenraad se eksamen afgelê het, spog met ‘n 100 % slaagsyfer.
Waterberg High School het net een druipeling en by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) waar die atmosfeer Woensdagoggend gespanne en somber was, is daar agt leerders wat nie die pyp gerook het nie.
CVO-skool Potgietersrus
Jan Harmse, hoof van die CVO-skool is trots op die elf matrieks wat almal deur is waarvan agt universiteitsvrystelling gekry het.
Die top presteerder is Gerda Goosen met ses onderskeidings.
Harmse sê die sukses kan toegeskryf word aan die harde werk van die onderwysers, die deursettingsvermoë van die leerders en die positiewe ouers. “My puik personeel het die ekstra myl gestap. Ek is so trots my hemp se knope kan nie toe nie. Die hoofredes vir die leerders se sukses is hulle Christelike opvoeding en dissipline.”


Mokopane English Combined School (MECS)
Die top presteerder van MECS is Evelyn Toona wat met vier onderskeidings spog. Die 22 matriekleerders het tussen hulle 19 onderskeidings behaal.
Waterberg High School
Van die 108 matrieks wat by Waterberg High School geslaag het, het 79 universiteitsvrystelling. Ruth Tsatsi is die top presteerder met vyf onderskeidings.

Hoërskool Piet Potgieter (HPP)
Cas Badenhorst, waarnemende hoof van HPP, sê Masejeng Leso wat ook verlede jaar die meisie Dux leerder was, het ses onderskeidings verwerf. Gajan Devandran is op haar hakke met vier onderskeidings.
Badenhorst sê die finale uitslae was vanjaar meer realisties omrede leerders se deurlopende punte en die eindpunte naastenby dieselfde is. Die punte is nie gelig nie.
Hy het erken die standaard was die laagste in jare en wys daarop dat HPP vanjaar op akademie gaan fokus en sorg vir uitstaande onderwys. Hy het einde verlede jaar die leisels oorgeneem by Jas Hansen wat afgetree het.





