Bosveld NewsNews

Dienslewering blyk my ly ook onder die droogte

BOSVELDPRAATJIES: Vroëer jare het die mense altyd van Phalaborwa gesê dat daar net 'n doringdraad tussen die dorp en die hel is en dat hulle nie aldag weet aan watter kant van die draad die duiwel sit nie.

Vroëer jare het die mense altyd van Phalaborwa gesê dat daar net ‘n doringdraad tussen die dorp en die hel is en dat hulle nie aldag weet aan watter kant van die draad die duiwel sit nie.

Die hel het egter in Desember verlede jaar en vroeg Januarie in Mokopane kom vakansie hou smaak dit my. Sowat van warm kry het ek in my ganse lewe nog nooit beleef nie. As dit nie genoeg rede is om die sondaars in die dorp ernstig te laat besin oor die hittige plek waar hulle eendag gaan opeindig nie, weet ek nie wat anders sal werk nie.

Vra een van die kassiere by ‘n kettingwinkel my mos anderdag wanneer die rëen gaan kom. Voor ek kan antwoord kom sy egter met haar eie antwoord: “Zuma het dit seker gesteel.”

As ek ‘n DA ampsdraer was sou ek net een Kerswens gehad het – in elk geval tot na die munisipale verkiesing – en dit is dat die ANC vir Jacob Zuma met sy sewe vroue, drie bywywe en 21 kinders (en as ek nou iewers ‘n ou syfertjie verkeerd het, blameer dit op die hitte) tot dan in die stoel sal hou.

JZ is tans die droom bondgenoot van elke opposisieparty.

Skop hulle hom

egter voor die verkiesing uit en stel vir Cyril Ramaphosa aan, hardloop die hele ou spul ANC’s wat uiteindelik gesien het dat hul held net aan homself en sy trawante dink, in ‘n stofstreep terug om maar weereens hul kruisies agter die ANC te trek.

Hierdie feesseisoen kon ek dit regkry om saam met twee van my kinders en hulle kleinkinders te kuier.

Ouboet het uit London met sy twee pienkvoete bietjie die hitte kom trotseer en ousus met haar twee was ook by.

Dis net jongboet in die VSA wat nie kon kom nie, maar daarvoor het mens begrip want sy tweede enetjie is op 18 Desember gebore.

Ouboet vertel hoe goedkoop sy vakansie geword het na JZ se stommiteit met onse Minister van Finansies.

‘n Ete vir vier by ‘n seekosrestaurant, wyn ingesluit, kos hom soveel in SA in ponde as wat ‘n voorgereg vir een persoon by ‘n soortgelyke restaurant in London sou kos.

Net jammer van die gemors met kinders se geboortesertifikate. Beamptes by die OR Tambo lughawe het nie die vaagste benul gehad wat om te doen toe hy sy twee dogtertjies (beide in Engeland gebore) se sertifikate uitpluk nie.

Wil julle weet hoe ver ons staatsdiens nou by die res van die wêreld agter is? Jongboet woon redelik in die middel van die VSA in Colorado en moes verlede jaar op sy Suid-Afrikaanse paspoort vir konsertoptredes Rusland en Taiwan toe vlieg.

Stuur sy paspoort die Maandag per FEDEX na die Russiese ambassade in Washington, DC aan die een kant van die land vir ‘n visum en kry dit die Vrydag terug. Die volgende dag stuur hy dit Los Angeles toe, aan die ander kant van die land, vir die Taiwanese visum, kry dit die Vrydag terug en vlieg drie dae later St. Petersburg toe vir sy eerste konsert.

Ons skoondogter in London se Suid-Afrikaanse paspoort sou verval in die tyd wat hulle in Desember hier sal wees en vroeg in September doen sy aansoek vir ‘n nuwe een by die Suid-Afrikaanse ambassade in London. Sy volg gereeld op en bou later ‘n persoonlike verhouding met die vrou by die ambassade op.

Drie dae voordat hulle moet vlieg word sy gebel en ingelig haar paspoort het opgedaag. Tien dae later sit ons rustig met ‘n glasie rooiwyn om ‘n vuurtjie by Klein Kariba terwyl Ouboet se mond kwyl oor die duimdik T-bene wat op die kole sis.

Skielik piep skoondogter se selfoon.

Reg geraai, dis die ambassade wat laat weet sy kan nou maar haar paspoort kom afhaal.

O ja, my DStv tydskrif met die Desember programme het dit sodanig betyds gemaak dat ek darem 31 Desember se programme daarin kon lees.

Ons departement van poswegraakdienste kon dit vir daardie dag in my posbus besorg. Lyk my ons is nou af van 3 maande agterstallige pos na net een maand toe na die ellelange staking daar.

Lees ek ook mos dat Wyk 32 se DA-raadslid met al wat uniformdraer vergader het oor beter geraas wetstoepassing in die omgewing van ‘n hoendereetplek in die hoofstraat.

Die kuiereetplek skuins oorkant die hoenderplek het darem nou gehoor gegee. Dit was juis hulle wat vir ds. Bernard Rademeyer elke naweek uit die dorp laat vlug oor die lawaai wat tot in die vroëe naweekoggendure by hulle opklink.

Ek het die arme man se vele SMS’e en pleidooie aan hulle gesien.

Wat doen mens in so ‘n geval? Begin ‘n petisie om hul dranklisensie gekanselleer te kry?

Leef en laat leef, is my siening, maar neem dan net ander mense in ag veral as hulle teen twee uur op ‘n Saterdag- of Sondagmôre nog nie ‘n oog kon toemaak nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button