Gerda spog met ses onderskeidings
Die bekende gesegde lees wat jy saai sal jy maai en in Gerda Goosen, 'n gr. 12-leerder aan die CVO-skool Potgietersrus (2015), se geval spog sy met 'n ryke onderskeidingsoes.
MOKOPANE – Die bekende gesegde lees wat jy saai sal jy maai en in Gerda Goosen, ‘n gr. 12-leerder aan die CVO-skool Potgietersrus (2015), se geval spog sy met ‘n ryke onderskeidingsoes.
Gerda was verlede Woensdag in haar noppies toe sy hoor sy het ses onderskeidings in haar eindeksamen behaal.
Die CVO-skool Potgietersrus pronk ook die jaar met ‘n 100% slaagsyfer in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se nasionale seniorsertifikaat eksamen.
Bosveld het telefonies met ‘n trotse Gerda gesels waar sy oppad was na haar eerstejaarskamp in Potchefstroom.
Gerda vertel die afwagting tot die uitslae was erg senutergend.
“Ek het nie geweet wat om te verwag nie, sienende dat dit ‘n taamlike taai eksamen was, maar nou is ek in ekstase.”
Gerda sê sy het aanvanklik gemik vir agt onderskeidings, maar na afloop van die eksamen het sy gehoop vir ses.
Sy het ‘n onderskeiding in wiskunde, rekeningkunde, ekonomie, besigheidstudies, Engels en lewensoriëntering opgeraap.
Wiskunde was haar gunsteling vak en sy sê sy het beslis ‘n syferbrein daarom gaan sy die jaar aktuariële wetenskap by die Noord-Wes Universiteit van Potchefstroom studeer.
Haar raad aan die gr. 12’s van 2016 is: “Werk hard, doen daagliks jou huiswerk en oefen ten minste vir ‘n halfuur elke dag.”
Trinkie Goosen, Gerda se ma, het aan Bosveld gesê sy is baie trots op Gerda. “Sy verdien elke onderskeiding.”
Skoolhoof Jan Harmse sê hy is baie trots op haar prag prestasie. “Sy pluk die vrugte van haar deurlopende harde werk.”




