‘Jy moet nooit moed opgee nie’ – Ferdi Coetzer
Met nie minder as sewe onderskeidings is Ferdi een van die top presteerders van Hoërskool Pietersburg (PHS).
POLOKWANE – Met 2015 se matriekuitslae het Ferdi Coetzer bewys hy staan nie terug as dit by die inpalming van onderskeidings kom nie.
Met nie minder as sewe onderskeidings is hy een van die top presteerders van Hoërskool Pietersburg (PHS).
Hy is nie iemand wat spog nie en Ferdi sê hy is net dankbaar vir die geleenthede wat PHS hom gebied het.
Hy sien ook daarna uit om die lewe met albei hande aan te pak met die wete dat hy hard gewerk het en die vrugte daarvan gepluk het.
Onder sy top vakke spog hy met ‘n allemintige 98% vir wiskunde en 96% vir ekonomie buiten vir sy hoë 80% gemiddeld vir sy oorblywende vakke.
Ferdi sê hy is nie ‘n persoon wat baie tyd aan leer spandeer nie en is geseënd om ‘n natuurlike gawe te hê om te presteer.
“Ek dink die belangrikste ding wat gr. 12-leerders moet besef is dat hulle alles moet verstaan.
“Wanneer jy verstaan wat vir jou geleer word en wat jy doen in die klas en in die eksamen, dan is die stryd reeds gewen,” vertel hy.
Ferdie sê die groot geheim lê daarin om in jouself te glo en wanneer daar tye kom wat jy twyfel om vas te hou aan jou geloof en deur te druk tot die einde.
“Jy moet nooit moed opgee nie, maak nie saak wat gebeur nie,” vertel hy.
Ferdi gaan nie dat sy studies op hom wag nie en gaan dadelik wegspring met sy aktuariële studies by die Universiteit van Pretoria.




