Sarel en Barenda Eloff groet stad na 30 jaar
Bekende inwoners van die stad, Sarel en Barenda Eloff, sal binnekort hul wortels in Polokwane optrek en hul in Durbanville vestig. Die Eloff-egpaar en hul vier dogters Sarenda, Marliza, Zachia en Jeandri het in 1987 van Hartbees-poort na Polokwane verhuis nadat Sarel ‘n werksaanbod as landbou-ontwikkelingbeampte aanvaar het. Kort na hul aankoms in die stad …
Bekende inwoners van die stad, Sarel en Barenda Eloff, sal binnekort hul wortels in Polokwane optrek en hul in Durbanville vestig.
Die Eloff-egpaar en hul vier dogters Sarenda, Marliza, Zachia en Jeandri het in 1987 van Hartbees-poort na Polokwane verhuis nadat Sarel ‘n werksaanbod as landbou-ontwikkelingbeampte aanvaar het.
Kort na hul aankoms in die stad het Barenda die Eloff Gallery in die Palmsentrum oopgemaak. “Ek het die besigheid as ‘n geleentheid gesien om vir ons kinders ‘n toekoms en opvoeding te verseker en alles het wonderlik uitgewerk. Die mense van die stad het ons dadelik verwelkom en ons sal net gelukkige herinneringe saamneem,” vertel sy.
In 1996 het sy die galery na die hoek van Dorp- en Jorissenstraat verskuif waar dit ‘n oase geword het vir vriende en kliënte wat kunswerke wou bewonder, waardeer en na goeie musiek wou luister.
Kunswerke was egter nie die galery se enigste trekpleister nie en inwoners kon ook dekoritems soos handgemaakte keramiekware en matte hier koop. Raam van kuns-werke, sertifikate en ander toekennings het ‘n groot deel van die besigheid beslaan. Barenda het die hele land deurkruis op soek na unieke voorraad terwyl die galery só gegroei het dat drie voltydse personeellede aangestel is. Die galery is onlangs verkoop.
Die Eloffs gaan nie aftree in die Kaap nie. Sarel sal steeds met landbouprojekte besig wees en Barenda sê sy sal nie kan stilsit nie en wil steeds by gemeenskapsprojekte betrokke wees.
Twee van hul dogters woon in die Kaap en die egpaar sien uit om deel van hulle en die kleinkinders se le-wens te wees. Die ander twee woon in die VSA en in Pretoria.
“My werk behels dat ek moet reis en dit maak eintlik nie saak waar ons woon nie, daar moet net ‘n lughawe naby wees,” verduidelik Sarel.
Barenda sien veral uit na die rustigheid van die Kaapse wynlande en gereelde besoeke aan die teater en kultuuraktiwiteite waarvoor die Moederstad bekend is. Daar is egter ‘n hele paar dinge van Polokwane wat sy sal mis.
“Ek sal my geloofsgenote en mu-siekmaters baie mis en ook my staatmakerspan Frik, Alpheus, Johnny en Flora. Sonder hulle sou ek niks kon doen nie. My heerlike skadutuin van inheemse bome en struike met tiptolle, janfrederikkies, suikerbekkies en rooi-, geel- en bonthoutkappers, glasogies en baardmannetjies sal my altyd laat terugverlang.”
“Die Eloffs was staatmakers in die gemeenskap en hul vertrek sal ‘n leemte in die stad laat,” het ‘n vriend van die gesin opgemerk.
BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



