OPVOLG: Water terug in Mookgophong, probleme bly
Dit gaan nog sowat drie maande vat om Mookgophong se waterprobleme op te los en intussen is daar geen waarborg dat die water wat Dinsdag weer begin vloei het in die krane van die Gholfpark woonbuurt se huise, môre nog daar gaan wees nie, sê Hercules Louw, DA-raadslid van dié dorp.
MOKOPNE – Dit gaan nog sowat drie maande vat om Mookgophong se waterprobleme op te los en intussen is daar geen waarborg dat die water wat Dinsdag weer begin vloei het in die krane van die Gholfpark woonbuurt se huise, môre nog daar gaan wees nie, sê Hercules Louw, DA-raadslid van dié dorp.
Tans word daar geboor by vyf nuwe boorgate en ‘n nuwe pyplyn is gelê vanaf die Frikkie Geyser dam. ‘n Spesiale raadsvergadering is Dinsdag gehou en daar is besluit om ‘n energie- sowel as ‘n waterforum op die been te bring vir raadslede, inwoners en tegniese personeel waar al die waterprobleme bespreek kan word.
Louw vertel die dorp word vanaf September verlede jaar behoorlik lamgelê met water- en elektrisiteitsprobleme. Net om die elektriese netwerk te herstel gaan sowat R20 miljoen kos.
“Ons het 14 boorgate waarvan vier meganiese probleme het. Die munisipaliteit het nie die rekening van die firma betaal wat herstelwerk hier gedoen het nie. Die gevolg was dat ons kort voor Kersfees ernstige waterprobleme begin kry het. ”
Een van die twee dompelpompe by die Frikkie Geyserdam het ook opgepak wat veroorsaak dat die watervoorsiening na die opgaardam nie na behore is nie. Intussen is ‘n lekplek aan ‘n pyp wat water vanaf die Frikkie Geyser dam na die opgaardam vervoer, vandeesmaand opgespoor en dit word tans herstel.
Die ontsluiter van die Tinmynlyn wat gekoppel is aan die Frikkie Geyserdam is nie die afgelope twintig jaar gediens nie en het ook onklaar geraak. Die proses is nou aan die gang om ‘n nuwe lyn te installeer.
Louw sê die DA het reeds in November vyf watertenks by die ingang van die woonbuurt, Gholfpark opgerig. Die inwoners het voor Kersfees tot Maandag bykans geen water in hulle krane gehad nie. Diegene wat dit nie kon bekostig om op eie koste ‘n opgaartenk by hul huise te installeer nie, moet hulle kanne by die tenks vul. “Dinsdag was die water terug, maar vir hoe lank weet ons nie.”
Hy wys daarop dat die munisipaliteit se enigste twee tankers in Desember opgeveil is en daar is toe ‘n tanker gehuur om water by die inwoners te kry.
Dieselfde tanker moes ook in Roedtan water na mense aanry.
“Roedtan sit op die oomblik met dieselfde krisis as Mookgophong. Dié dorp se pompe gooi modder uit en die pype het opgepak.”
Die DA van Mokopane het verlede naweek hulle moue opgerol en met ‘n uitreikaksie 500 liter water na Mookgophong aangery.
Dankbare inwoners van onder meer Gholfpark en Phomolong het om die sleepwaens saamgedrom om gratis skoon drinkwater te kry.
Daar is by elke huis in Gholfpark ‘n 5-liter bottel water afgelewer.
Water van so ver as Lephalale en Tzaneen is ook aangery om die nood te help verlig.





