Bosveld NewsNews

Jonk, oud sorg vir gesonde aksie (en gees) in buitelug

LIMPOPO – “Van ligdag af is ek en my lyf in ‘n hewige skaakgeveg besig. My spiere is seer en die pyn het soos ‘n veldbrand aan my bene begin lek. My manskappe (arms en bene) is moeg en my perd (rug) is sommer skeef getrap, maar my koningin (my nek) hou haar nek styf …

LIMPOPO – “Van ligdag af is ek en my lyf in ‘n hewige skaakgeveg besig. My spiere is seer en die pyn het soos ‘n veldbrand aan my bene begin lek. My manskappe (arms en bene) is moeg en my perd (rug) is sommer skeef getrap, maar my koningin (my nek) hou haar nek styf en hoog nog lank nie gereed om tot val te kom. My koning (brein) werk oortyd om die vyand (pyn) koud te sit.”

‘n Facebookinskrywing wat ook raakvat hoe dit voel as jy na ‘n lang afwesigheid van fisiese aktwiteit en lekker eet oor die feesseisoen skielik weer jou agterent in rat moet kry.

Die jaar 2016 het met ‘n vinnige drafstappie begin en hier by Bosveld gebeur nuus baie keer al om die sekonde en vra nie altyd vir ‘n dag, tyd of uur nie. Jy moet gereed wees om binne minute langs ‘n ongelukstoneel te staan, te haas na ‘n funksie of om heeldag op die skole se atletiekvelde kiekies te neem van al die opwinding.

Jou kreatiwiteit en spiere werk oortyd op die sportvelde en die sweet tap terwyl jy probeer om soveel moontlik van al die aksie in die warm bosveldson op kamera vas te lê. Die ouers se gees langs die bane is aansteeklik en die opgewondenheid wanneer die kleinspan hardloop ‘n belewenis. Of Jannie nou eerste oor die wenstreep is, of laaste die luide aanmoediging vanaf die pawiljoen en voor die eindstreep maak die resies die moeite werd.

Gepanser met ‘n hoed en bril moet ‘n mens nie skaam wees as jy sonskerm aansmeer nie, want die son se strale is giftig op die oop veld. Velkanker is die algemeenste kanker in die land met meer as 20 000 gevalle wat jaarliks aangemeld word. Suid-Afrika is wêreldwyd tweede op die lys vir die hoogste voorkoms van velkanker met Australië wat ons ‘n kortkop voor is.

Ouers behoort ‘n voorbeeld te stel, want te veel blootstelling aan die son onder die ouderdom van 18 verhoog jou kanse om later velkanker te kry. ‘n Pluimpie vir Laerskool Krugerpark wat met sy bokkesport ‘n tent op die veld gehad het waar die kinders en selfs die ouers sonskerm kon gaan aansmeer.

Skoolhoof, Jan Harmse van die CVO-Skool Potgietersrus, is in sy noppies met die nuwe spreiligte op die skool se sportveld wat beteken daar kan nou ook saans teen mekaar deelgeneem word.

Cas Badenhorst hou die leisels stewig vas as waarnemende hoof van Hoërskool Piet Potgieter. Hy fokus vanjaar op akademie, maar glimlag breed oor die atlete wat in die erge hitte beslis nie teleurstel nie en ‘n interhoër-driekuns wat wink.

Potties atletiekklub maak gereed vir hulle jaarlikse marathon wat op 13 Februarie op die Sterkrivierpad gehou word en die rugbyspelers van die dorp is kliphard aan die oefen vir die Limpopo-liga.

Die jaar 2016 het in alle erns begin en Mokopane is voorwaar ryklik geseën met die talent van jonk en oud wat op sportgebied die dorp se naam hoog hou. ‘n Gesonde liggaam huisves inderdaad ‘n gesonde gees.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button