Bosveld NewsNews

Politiek, waterkrisis en hoë kospryse ‘n taai toffie om te kou vir meeste

BOSVELDPRAATJIES: Antjie Somers bestaan, Kersvader woon by die Noordpool en lewer presente met sy vlieënde takbokslee af, die Tokkelossie bekruip ons snags en ABSA is die rede waarom die rand so skerp in Desember en Januarie geval het.

Antjie Somers bestaan, Kersvader woon by die Noordpool en lewer presente met sy vlieënde takbokslee af, die Tokkelossie bekruip ons snags en ABSA is die rede waarom die rand so skerp in Desember en Januarie geval het.

Ek weet nie van die eerste drie nie, maar die ANC Jeugliga verkondig die laaste een met groot fanfare en oortuiging. Mag die Goeie Vader ons behoed van hierdie tipe van stommiteit wat deur die jeug gepredik word. Lyk my st. 4 vir ‘n president en st. 8 houtwerk vir ‘n raserige politieke leier het uiteindelik ‘n troef gevind –die jeugliga se uitspraak oor die slagting van die Rand getuig omtrent van die ekonomiese insig van ‘n gr. 0 leerling (of van die president van ‘n land!).

Wat sou u gedoen het met $500 m, oftewel R8 375 000 000? Dis die bedrag wat drie mense elkeen onlangs in die VSA se Powerball trekking losgeslaan het. Vertel een wysneus my mos: “Ek sal daardie politici koop wat nog net nie hul prys kon kry nie, amper soos krieketspelers in Indië of Springbokrugbyspelers wat nou almal oorsee gaan speel.” Van sport gepraat, lyk my die veiligste vir mens se senuwees is om deesdae maar eerder Dambord te speel. Ag ja, wat kan mens nou ook van krieket verwag as die hoofman van die keurkomitee self in net drie eersterangse wedstryde gespeel het?

Kom ons gaan kuier eerder by die positiewe. Reën het feitlik landwyd geval. Die VF+ juig luidkeels op Facebook oor elke enkele (wit) siel wat by hulle aansluit en maak aanspraak daarop dat hulle vir Afrikaans “veg”.

As al hul Facebook maats dit tog maar net in hul geskrewe kommentare wil toepas! Die DA werk baie hard om kiesers in die landelike deel van Mahwelareng van hul dwaalweë te probeer bekeer.

‘n Kgosi van Mahwalereng dring aan op R2 m as fasiliteringsfooi (in enige ander regeringsbedeling sou dit omkoopgeld gewees het) omdat hy ‘n potensiële koper van eiendom aan ‘n verkoper voorgestel het. Die potensiële koper, via een of ander skema van die staat, moet nou 15% meer aanbied as die koper se gevraagde prys om die kgosi se eis te kan akkommodeer. Die aanbod is darem nog nie geteken nie. Nou hoekom beskou ek dit as positiewe nuus? Wel, abaThembu koning Dalindyebo daar in die Oos-Kaap sit tans in die tronk. Dit het nou wel byna ‘n dekade geneem om hom daar te kry, maar die meule van geregtigheid maal steeds langsaam en deeglik. Durf ons begin hoop oor Zuma en ‘n paar van sy trawante se toekoms?

Watter verbruiksitems behalwe mieliemeel, groente, vleis en whisky se pryse gaan in 2016 hemelhoog styg? Vriend Deon sit sy geld op enige produk afkomstig van die vrug van die druif, alhoewel hy reken dat brandewyn teen enige prys steeds ‘n winskoop sal bly. Luiperdboer van Bloemhof is minder optimisties. Dis nie net kospryse wat die hoogte gaan inskiet nie kla hy, maar ook die omkoopgeld wat sommige verkeersbeamptes vra.

Dit lyk asof die munisipale verkiesing van 2016 nou iewers tussen Mei en Augustus gaan uitbroei, met ‘n registrasie naweek aan die begin van Maart. Selfs al kyk Mammie daardie naweek diep in jou oë en fluister dat sy ‘n byna-niks nagkabaai gekoop het vir ‘n naweek wegglip net vir julle tweetjies, gaan maak eers seker dat jy en mammie as kiesers geregistreer is. So van verkiesing gepraat, ek wonder hoe die agbare plaaslike OVK dit gaan regkry om ‘n “skoon” verkiesing te hou as ek kyk na al die gemors wat in hul erf op die hoek van Hooge en Van Riebeeckstraat rondlê. Het ons hier te make met ‘n nuwe munisipale stortingsterrein in wording?

Mookgophong se waterprobleem het toe almal s’n geword met water wat van heinde en verre aangery is. Dit was goed om ‘n politieke party te sien moue oprol en ingryp waar daar werklike nood is. Mooi so vir die DA. Ek hoop julle is ook suksesvol met die waternood laer af in die Mogalakwenarivier.

Nou wonder ek egter, daar bestaan blykbaar ‘n Waterberg Distrik Munisipaliteit met amptenare, 33 raadslede en ‘n burgemeester wat veronderstel is om oorhoofs beheer uit te oefen oor plaaslike munisipaliteite, ook die nou afgeskafde Mookgophong s’n. Wat het julle gedoen toe Mookgophong se waterprobleme oor maande en moontlik selfs jare ontwikkel het? Of sit julle net daar en trek vet salarisse. Julle was totaal onsigbaar en onhoorbaar in julle stilstuipe terwyl die gewone burgery moes ingryp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button