Lyk goed, voel goed en wen groot pryse
“Na ‘n sekere ouderdom spandeer party vrouens al hul energie aan hul gesinne en kinders, maar vergeet soms van hulself.” Antoinette Barwise, organiseerder van Mall of the North en Honey Fashion Accessories se Make Me Look Beautiful-kompetisie, verduidelik dat die doel daarvan is om vrouens van 35 jaar en ouer geleentheid te gee om hul …
“Na ‘n sekere ouderdom spandeer party vrouens al hul energie aan hul gesinne en kinders, maar vergeet soms van hulself.”
Antoinette Barwise, organiseerder van Mall of the North en Honey Fashion Accessories se Make Me Look Beautiful-kompetisie, verduidelik dat die doel daarvan is om vrouens van 35 jaar en ouer geleentheid te gee om hul volle potensiaal te ontwikkel.
“As mens goed lyk, voel jy ook goed en straal meer positiewe energie uit. Dit is ‘n belegging. Op dié manier kan jy ander inspireer om ook in hulself te belê.”

Deelnemers wat vir hierdie eenkeer-in-‘n-leeftyd-kompetisie wil inskryf moet die inskrywingsvorm die week op bladsy 12 in Polokwane Observer invul en per hand met ‘n vollengte foto en R200 inskrywingsfooi by Mall of the North se bestuurskantoor inhandig. Elke vrou wat inskryf, sal ‘n gratis armband van Honey Fashion Accessories ontvang.
Inskrywings sluit om 17:00 op 12 Februarie en die foto’s van deelnemers sal op 18 en 25 Februarie in Polokwane Observer gepubliseer word.
Die publiek kan vir hul gunstelingdeelnemer stem. Die kompetisielyn is ‘n gewone SMS-lyn en gratis SMS-boodskappe sowel as SMS-bundels kan gebruik word om te stem. Die stembus sluit om 14:00 op 26 Februarie.
Die tien finaliste sal op 27 Februarie aangekondig word. Elkeen sal ‘n haartransformasie van Salon Deo Volente en naels versorg deur Sorbet Mall of the North ontvang.
Finaliste sal deur Foschini Mall of the North geklee word vir die finale ronde met Honey Fashion Accesories juweliersware as bykomstighede om die uitrustings af te rond. Hul grimering sal deur die professionele span van Mac Cosmetics gedoen word en Picture Perfect sal glansfoto’s neem.
‘n Paneel van beoordelaars sal op 3 Maart by Mall of the North tydens die finale ronde besluit wie die wenner is wat volgens die beoordelaars die grootste transformasie ondergaan het. Alle finaliste moet tydens dié sessie teenwoordig wees om in aanmerking vir die eersteprys te kom.
Die wenner sal ‘n oormaaksessie vir haar hare, naels sowel as leiding oor hoe om haar nuwe voorkoms te handhaaf, ontvang. Sy sal ook ‘n naweek vir twee ter waarde van
R4 000 by Mount Sheba, a Forever Resort-oord wen.
Mall of the North sal die wenner se finale uitrusting borg en die nege ander finaliste sal elkeen geskenkbewyse van die sentrum ontvang. “Elke vrou het die potensiaal om te skyn en ons wil aan vrouens die geleentheid gee om hul innerlike skoonheid ook na buite uit te straal,” sê René van der Merwe, bemarkingsbestuurder van Mall of the North.
MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com



