Bly koel terwyl die markte woel
KOLLIG: Ons voel hoe die markte woel. Effektebeurse wêreldwyd ervaar die afgelope maande al groter volatiliteit. Beleggers het ervaar hoe aandeelpryse en geldeenhede se waardes binne 'n kort tydsbestek geaffekteer word.

Ons voel hoe die markte woel. Effektebeurse wêreldwyd ervaar die afgelope maande al groter volatiliteit. Beleggers het ervaar hoe aandeelpryse en geldeenhede se waardes binne ‘n kort tydsbestek geaffekteer word.
In Suid-Afrika was daar die drastiese vervanging en heraanstelling wat betref die kandidaat vir Minister van Finansies wat die rand sleg geraak het. Maar dit is nou reeds ou nuus en Pravin Gordhan het die leisels reeds vasgevat. Hy het onlangs met sake-leiers vergader en positiewe raakpunte van wedersydse samewerking tussen die staat en sake-sektor blyk sterk op die voorgrond te kom ten einde ons ekonomie te stabiliseer.
Wat veral nou belangrik is, is dat hy ‘n aanvaarbare en goedgebalanseerde begroting sal voorlê wat hopelik sal verhoed dat Suid-Afrika se finansiële posisie tot rommel-status verklaar word. Indien ons so klassifikasie kry kan buitelandse beleggers ons moontlik groet, want meeste instansies verbied normaalweg dat hul beleggingskapitaal na lande met rommelstatus gaan.
Cyril Ramaphosa het ook onlangs gemeld dat die regering verbind is daartoe om groei te bewerkstellig en nouer met die privaatsektor saam te werk.
So is daar reeds sprake dat Eskom gedeeltelik na privaat besit oorgedra mag word. Ons moet wag en kyk, maar minstens is dit ligstrale in die donker.
Dit is baie belangrik dat beleggers wat reeds binne ‘n bepaalde strategie belê is, by hul vasgestelde roete bly of net klein aanpassings maak soos en waar nodig. Beleggers sonder ‘n plan behoort nou dringend kundige advies te kry; veral wat hul langtermyn aftreebefondsing betref. Dit is nou die tyd om aandele van goed-geposisioneerde maatskappye (binne- en buitelands) te koop aangesien die pryse daarvan laag is en dus laer vlakke van risiko bied.
Dieselfde geld vir die effektemark soos staats- en ander effekte. Die koers op langtermyn is 10% en meer, maar ‘n vyf jaar horison bied laer risiko aangesien ons nie weet wat inflasie en rentekoerse aan die Reserwebank gaan doen nie. Kontant in enige portefeulje bied nou teen beter koerse ook meer waarde.
Nou ja, alles bly maar ‘n risiko en ons leef in ‘n gevaarlike wêreld. Elkeen moet voldoende inligting verkry en met wysheid besin oor die feite voor hom, om sodoende ‘n strategie op langtermyn te volg, want sien, ons weet nie een presies hoe lank ons nog hier gaan wees nie.
Tot volgende keer,
Groetnis
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by (015) 491 2020/082 881 4672 of psgk@mweb.co.za.



