Local News

Veldbrande verwoes duisende hektaar naby Sterkrivier

Verdere ondersoek dui daarop dat onwettige jagters vermoedelik agter die veldbrande in die Sterkrivieromgewing naby Mokopane is.

MOKOPANE – Die droë wintermaande bring jaarliks groot kommer vir boere wanneer die veld uitgedroog is, gras lank en ruig staan en sterk winde opsteek. Vir boere in die Sterkrivieromgewing het dié vrees verlede week ‘n werklikheid geword toe verwoestende veldbrande duisende hektaar grond verswelg het.

Vlamme het die Sterkrivieromgewing verwoes tydens onlangse veldbrande.

Brand begin as klein vuurtjie

Die brand het verlede Woensdagoggend begin toe die plaasvoorman van Kranskoppie rook opgemerk het. Hy het ondersoek ingestel en gevind die brand was nog klein genoeg om geblus te word.

Hy het daarna met sy daaglikse take voortgegaan, oortuig dat die gevaar afgeweer is.

Sterk winde het egter later opgesteek, die vuur weer laat opvlam en binne ‘n kort tyd het dit buite beheer geraak.

Vlamme spring oor na Kromdraai

Die vlamme het vinnig na die aangrensende plaas Kromdraai versprei.

Boere uit die omgewing het inderhaas ingespring en deur die nag voorbrande gemaak om die vuur te probeer stuit.

Teen Donderdag het die brand egter oorgespring en ook ‘n gedeelte van Shikwaru Lodge beskadig.

Working on Fire moes onttrek

Steven Vermaak, ‘n boer van die omgewing, sê die brand het aan die noordekant al hoe dieper die plaas Kranskoppie binnegedring.

“Die Working on Fire-span het vir twee dae saam met die boere teen die vlamme geveg, maar moes teen Saterdag onttrek weens ander verpligtinge,” sê Vermaak.

‘n Uitgebrande blusser.

Hy voeg by dat boere uit ander gebiede daarna saam met hul werkers en brandbestrydingstoerusting die berge ingevaar het om die vuur te probeer stuit.

Nog ‘n brand het Saterdagaand op die plase Wydehoek en Vista Vista uitgebreek.

Skade oor vyf plase gestrek

Volgens Vermaak was die skade omvangryk.

“Die plaas Kranskoppie het 3 500ha verloor, Kromdraai 3 400ha, Shikwaru 400ha, Vista Vista 800ha en Wydehoek 3 800 ha, asook ‘n ou plaashuis en die helfte van die voer in die stoor,” sê hy.

‘n Vlakvark is dood in die brand.

Onwettige jagters vermoedelik skuldig

Vermaak sê verdere ondersoek dui daarop dat die brande vermoedelik opsetlik deur onwettige jagters gestig is.

“Gelukkig is geen beserings aangemeld nie. Ons het wel wild gekry wat doodgebrand het, die ou plaashuis is vernietig en een van die boere het ‘n groot deel van sy voer verloor. Vir baie van hierdie boere is hul inkomste deur hierdie verwoestende brand vernietig,” sê Vermaak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button