Boerewors ryker danksy goeie raaiskoot
Santie van Staden se knap raaiskoot het aan haar 2 kg boerewors en ‘n braairooster in Vleislapa Marshallstraat en Polokwane Observer se rugbyraaikompetisie besorg. Toe Van Staden Vrydagmiddag net voor 16:00 haar voorspelling vir die Vodacom Blou Bulle en Emirates Leeus se wedstryd stuur, het sy skertsend aan kollegas gesê dat sy net gou haar …
Santie van Staden se knap raaiskoot het aan haar 2 kg boerewors en ‘n braairooster in Vleislapa Marshallstraat en Polokwane Observer se rugbyraaikompetisie besorg.
Toe Van Staden Vrydagmiddag net voor 16:00 haar voorspelling vir die Vodacom Blou Bulle en Emirates Leeus se wedstryd stuur, het sy skertsend aan kollegas gesê dat sy net gou haar vleis gaan bestel.
Min het sy geweet dat sy inderdaad met die sappige prys sou wegstap.
Deelnemers aan die kompetisie kon hul rugbykennis inspan of op blote geluk staatmaak om die eindtelling van die Super Rugby-opwarmingswedstryd wat Saterdag gespeel is, te voorspel.
Die inskrywings is na Polokwane Observer gestuur en die wenner is Maandagoggend aangekondig.
Van Staden se antwoord dat die Bulle met 26-21 oor die Leeus sou seëvier, was die naaste aan die eindtelling van 28-24.
“Sy is een van ons gereelde kliënte en dit was ‘n heerlike verrassing om vanoggend te sien dat sy die een was wat ons rugbyraaiprys gewen het,” sê Elaine van Tonder, mede-eienaar van Vleislapa Marshallstraat wat ook die prys aan Van Staden oorhandig het.
Van Staden het vertel dat sy al vantevore pryse met rugbyraaie gewen het en baie lief vir die spel is.
MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com



