Groen en Goud vir Eben
Sy liefde vir swaardgevegte het kleintyd begin en nog nooit opgehou nie
MOKOPANE – Eben Wagner (15), ‘n gr. 10 leerder aan Hoërskool Piet Potgieter, glimlag van oor tot oor want hy het pas gehoor hy het sy Springbokkleure in skerm verwerf en gaan van 1 tot 10 April in Frankryk aan die Junior Skermwêreldkampioenskappe deelneem.
Nie net hy nie, maar ook sy mentor en spanmaat, Andrew Howitt, trek die groen en goud aan wanneer hulle na Frankryk vertrek om teen die wêreld se bestes te gaan meeding. Hulle albei is lede van die EreSabel Skermklub op Mokopane en onder die bekwame oog van hulle afrigter, Uwe Schröder, word daar hard geoefen.
Wagner en Howitt het onlangs aan die SA Junior Skermkampioenskappe in Kaapstad deelgeneem en hulle self goed gekwyt van hulle taak waar hulle onderskeidelik met ‘n ‘n brons en silwer medalje weggestap het.
Eben vertel ‘n mens moet fiks wees om bo uit te kom en hy oefen ten minste twee ure ‘n dag. Daarby vereis die sportsoort uitstekende konsentrasievermoë. “Jy moet kan fokus en terwyl die adrenalien pomp moet ‘n ou terselfdetyd kalm bly.”
Hy hou die meeste van Degen en Floret en dit is ook in dié twee afdelings wat hy sy Springbokkleure verwerf het. Hy wil graag onder die top 100 eindig in Frankryk en sien uit om die land en sy mense van nader te leer ken. “Dit is ‘n nuwe uitdaging om teen deelnemers van verskeie lande te kan skerm.”
Benewens skerm, geniet Eben dit ook om krieket te speel en hy mik om vanjaar vir die eerste krieketspan van sy skool te speel.





