Obaro, Agri SA span saam om waternood te verlig
Talle gemeenskappe, veral boere, gaan gebukkend onder die ergste droogte in die afgelope 50 jaar.
MOKOPANE – Daarom het Obaro onlangs R 250 000 aan die Agri SA Droogterampfonds geskenk.
Die skenking is gemaak om veral verligting in areas te bring wat tans hewige watertekorte en -beperkings beleef.
As ‘n voorkeur landbou-maatskappy in Suid-Afrika, is dit vanselfsprekend dat Obaro alles in sy vermoë doen om boere in nood by te staan.
Volgens ‘n mediaverklaring van Obaro word die Droogterampfonds deur Agri SA gebruik as voertuig om beide nasionale en internasionale ondersteuning te werf vir die geaffekteerde boere.
“Slegs 11 weke nadat die fonds geloods is, is daar reeds meer as R6 miljoen aan die Droogterampfonds geskenk.
“Waarvan R2,7 miljoen reeds uitbetaal is aan die mees droogtegeteisterde provinsies.
“Obaro is trots om een van die fonds se hoofborge te wees.”
Met ‘n onlangse inisiatief het Obaro drinkwater en water vir algemene- en dieregebruik tussen die maatskappy se personeel ingesamel en binne ‘n week het hulle meer as 53 498 liter water ingesamel.
Hierdie water is aan Swartruggens in die Noord-Wes geskenk in ‘n poging om hulle waternood te verlig.
Obaro het op 18 Februarie 7 000 liter water aan die Swartruggens Gekombineerde Skool geskenk en die res van die water sal aan gebiede in Swartruggens en Rustenburg versprei word om die nood te help verlig.




