Verskeie belasting op beleggings
KOLLIG: Ek ontvang heelwat navrae oor die nuwe belastingvrye spaarproduk waarin jy tot R500 000 kan belê in jou leeftyd sonder om enige vorm van belasting te betaal.

Jy kan R30 000 maksimum per jaar daarin spaar (R2 500 per maand). ‘n Verdere vraag wat gevra word is: Hoe verskil die belastingsituasie op normale beleggings van voormelde produk?
Ek gaan hier net verduidelik rondom gewone vrywillige beleggings en dan net kortliks verwys na belasting wat ter sprake is op verpligte beleggingsprodukte soos byvoorbeeld Lewende Annuiteite.
‘n Vrywillige belegging in ‘n tipiese portefeulje van effektetrustfondse genereer belasbare inkomste op rente en dividende wat op die portefeulje verdien word. Mens moet dus mooi verstaan wat die belasting-implikasie op die rente en dividende is wat mens uit jou beleggingsportefeulje ontvang.
Rente op beleggings is ten volle belasbaar, maar sekere vrystellings geld. Persone onder 65 jaar kan R23 800 se rente per jaar verkry sonder om belasting daarop te betaal. Persone bo 65: R34 500.
‘n Persoon bo 65 jaar oud sal dus R435 000 in kontant kan belê sonder enige belasting daarop indien aanvaar word dat die rente wat hy verdien 8% per jaar beloop.
Dividende: belasting word daarop teruggehou deur die instansies wat die dividende verklaar, welke instansies daardie belasting direk aan SAID oorbetaal.
Die onlangse begrotingstoespraak het hierdie koers nou weer vasgestel op 15%.
Wat kapitaalwinsbelasting (KWB) betref sal jy nooit KWB betaal op geld wat jy nie ontvang het nie.
Die KWB in ‘n gewone vrywillige belegging word gehef omdat jy (of as dit in ‘n polis is, die versekeraar) aandele in die belegging verkoop het. Solank die aandele nie verhandel word nie en jou belegging oordeelkundig volgens ‘n bepaalde strategie bestuur word, is geen KWB betaalbaar nie. Die normale “verkoop” van die aandele binne jou portefeulje word gebruik om ander aandele te koop of in ander bate-klasse te belê. Jy kry dus baie beslis die opbrengs, jy kies net (of die versekeraar, as dit in ‘n polis is) om die opbrengs uit die “verkoop” weer te belê. KWB is dus ter sprake die oomblik as jy die effektetrustportefeulje afkoop en die geld in jou bankrekening betaal word. Dit sal nie die geval wees met die belastingvrye produk nie.
Wat betref Lewende Annuiteite: Jy betaal belasting teen marginale koers op die inkomste daaruit en alle groei in die Lewende Annuiteit is belastingvry. KWB is hier nie ‘n kwessie nie. Jy betaal slegs dood gewone belasting soos op ‘n salaris en daar is geen KWB of belasting op die groei nie.
Onthou ook dat jy nie geld in ‘n Lewende Annuiteit kan belê as dit nie uit ‘n aftree-tipe fonds soos ‘n Uittree Annuiteit of ‘n Pensioenfonds kom nie.
Ons moet derhalwe die verskille goed verstaan alvorens ons spreekwoordelik die kop in ‘n belasting byenes druk. Maak asseblief seker.
Groetnis,
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n Finansiële Beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by (015) 491 2020 of 082 881 4672 of psgk@mweb.co.za



