Duisende by Mighty Men ondanks reën
Bykans 20 000 besoekers het die naweek die vyfde Mighty Men Conference in the Bushveld (MMC) bygewoon ondanks die reën en nat toestande. Die geur van braaivleisvure het van vroeg Vrydagmiddag tussen die doringbome gehang, maar die aand het ‘n hewige reënbui uitgesak. Konferensiegangers was dankbaar oor die 100 mm reën en die modder en …
Bykans 20 000 besoekers het die naweek die vyfde Mighty Men Conference in the Bushveld (MMC) bygewoon ondanks die reën en nat toestande.
Die geur van braaivleisvure het van vroeg Vrydagmiddag tussen die doringbome gehang, maar die aand het ‘n hewige reënbui uitgesak.


Konferensiegangers was dankbaar oor die 100 mm reën en die modder en nat toestande kon nie hulle gees demp nie.
Angus Buchan was Sondagoggend die hoofspreker waar die mans se vrouens en kinders ook by hulle kon aansluit.
Buchan het gesê dat verandering ‘n onafwendbare realiteit is en dat dit van belang is hoe mense verandering


hanteer. Depressie en angs by mense is simptome van verandering, maar die toekoms is in God se hande.
“Dit maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie, almal kry swaar en mens kan dit slegs hanteer as jy rigting in jou lewe gevind het. Die einddoel van die lewe is om God te eer en Hom vir altyd te geniet,” het Buchan gesê.
Volgens Buchan moet ‘n mens se

omstandighede nooit jou ingesteldheid negatief beïnvloed nie. “Net Jesus kan ons ware vrede, geluk en sukses gee. Ek glo in wonderwerke en plaas my lewe in God se hande. Mense kan alles van jou neem, maar nie jou keuses nie. Wat belangrik is, is waar jy jou vertroue plaas. As God met jou is, is jy in die meerderheid.”
Plaaslike sakeman, Pieter Ferns wat al sewe Mighty Men Konferensies bygewoon het, sê dat elke byeenkoms tot sy geestelike groei bydra. “Ek het met groot verwagting na vanjaar se byeenkoms uitgesien en ‘n groep vriende saamgebring om in die ervaring te deel,” sê hy.
Jong vriende van Pretoria Brandon, Gareth, Matthew en Kyle Ball en Darian Markides sê dat hulle die byeenkoms bygewoon het omdat hulle die Woord van God wou hoor en met Hom wou praat. “Die reën was ‘n uitdaging, maar dit was alles die moeite werd,” het Brandon gesê.
Abri Steyn en sy seun, Lardus van Pretoria-Noord het verlede jaar ook die konferensie bygewoon en Abri het vertel dat hy vanjaar kom kamp het om sielerus te kry en saam met medegelowiges te kuier.
“Dit is wonderlik om te sien hoe die Here se liefde almal saamsnoer. Dit is so jammer dat ons dit nie meer gereeld kan doen nie.”
Hoof Foto: Barry Viljoen – Angus Buchan spreek die skare toe.
Video Link : Duisende by Mighty Men ondanks reën
BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com



