Passievol en dinamies is woorde wat haar beskryf
Begaafde kunstenaar Inneke Koch (40), is 'n algemene 'huisnaam' onder baie Suid-Afrikaners en Bosveld se joernalis het by Inneke in haar kreatief-kunstige huis gaan kuier.
MOKOPANE – Reeds met die intrapslag word jy op ‘n stylvolle reis geneem en ‘n foto van ‘n koffiewinkel in Frankryk vorm die fokuspunt. “Hierdie foto kom uit een van my ma se vele Franse resepteboeke uit. Ek is absoluut versot op die Franse flair en kan binne etlike minute in een van die resepteboeke verdwaal,” vertel Inneke met ‘n warm glimlag.
Sy skink vir ons filterkoffie terwyl ek my verwonder aan van haar nuutste sketse. Haar kunswerke spreek van lewenslus, passie, liefde, dinamika en die unieke Inneke-stempel.
Wat het jou belangstelling in kuns geprikkel? ‘n Mens kan sê kuns is in my bloed. My pa, Johann Koch, tower meesterstukke op met olieverf en hy het ook jare lank die Johann Koch Kunsgalery in Thabo Mbekistraat bestuur en my ma, Thea, is ‘n talentvolle binneversierder.
Het jy kuns gaan studeer? Ek het kuns op skool gehad, maar na gr. 12 het ek skoonheid in Pretoria gaan studeer en vir ‘n paar jaar my eie salon bestuur. Ek het dit vreeslik geniet om bruide se gesigte in te kleur, maar in 2001 het ek my eerste kunswerk geskets en vandaar het die gogga my behoorlik gebyt.
Wat was jou eerste skets? Sy lag spontaan en sê: ” ‘n Bromvoël!” Ek het al my moed bymekaargeskraap en my pa gevra om dit te beoordeel. Hy het gesê dit is pragtig – ek moet dit volgende keer net groter teken.
Hoe sal jy jou kunsstyl beskryf? Ek is ‘n realis.
Wat geniet jy die meeste om te skets en waarom potloodsketse? Ek is mal daaroor om Nguni beeste te skets. Vir my is dit die lekkerste gevoel om te sien watter beeld volgende uit my potlood te voorskyn gaan kom en om dan my handtekening daarby te kan voeg, is onbeskryflik.
Waar kom jou inspirasie vandaan? God lei my baie: Sy stempel is in elkeen van my sketse.
Waarom het jy die stadliggies verruil vir die platteland? Ek het 13 jaar terug weer in Mokopane kom nes skrop, want dit is waar ek hoort, waar ek wil wees en waar ek my kinders wil grootmaak. Mokopane is vir my ‘n bekende legkaart wat ek al toe oë kan bou. Ek ken elke straat en elke boom, ek is ‘n plattelander in murg en been.
Jy het verlede jaar die Kunsskool in Thabo Mbekistraat geopen. Is dit iets wat jy nog altyd wou doen? Ek is baie lief vir die Here en dit is deur geestelike profesie, wat ek besluit het om die kunsskool te open. Ek wil elke leerder help om hulle volle potensiaal te bereik, om hulle individueel te laat blom. Ek geniet die Kunsskool vreeslik, want ek is mal oor teken en oor mense – so, die kombinasie is ‘n wenresep.
Wat is jou onderrig-geheim? Liefde! Elke kind moet weet hy is geliefd en dat dit nie gebaseer is op prestasie nie. Ek prys elke leerder vir hulle uniekheid.
Wat is jou gunsteling tydverdryf? Om tyd saam met my drie kinders te spandeer. Ons is baie na aan mekaar en sal sommer al vier in een vertrek lê en teken, lees of skryf. Al drie my kinders is bevoorreg om ‘n kunsstreep te hê.
Wat is jou raad aan ander aspirant-kunstenaars? Glo in jouself, want niemand anders gaan nie, vertrou dat jy dit kan doen en pak elke avontuur onder leiding van God aan.
Lesers kan haar Facebookblad, Inneke Koch Artist, besoek, of indien julle met ‘n Inneke Koch- kunswerk wil pronk, of vir meer inligting rakende die Kunsskool, kontak Inneke by 060 793 6233.





