Gabby (21) sterf na moedige stryd
Gabby Rosser is vanmiddag in ‘n privaat hospitaal in die stad oorlede. Sy was sowat twee weke gelede in ‘n botsing op die hoek van Munnik- en De Wetrylaan betrokke.
POLOKWANE – Gabby Rosser (21), wat op 16 Oktober in ‘n botsing in die stad betrokke was, is oorlede na twee weke in die Netcare Pholoso Hospitaal se intensiewesorgeenheid.
Gabby se pa, Craig, het die nuus vanmiddag gedeel dat Gabby omstreeks 14:00 vandag oorlede is.
“Die skade en infeksie was te erg. Dit is die werklikheid wanneer so ‘n groot oppervlak gebrand het. Maar sy het probeer. Ons almal het. Sy is nou veilig. En daar is nie meer pyn of vrees nie. Ons sal haar almal weer sien. En weer saam lag.”
Die motor waarin Gabby was tydens die botsing vroeër hierdie maand, het vlamgevat en sy het erge brandwonde opgedoen.
Alhoewel dit aanvanklik goed gegaan het met Gabby, het haar stiefma, Jenny Osborn, gisteroggend laat weet dat sy gesedeer is om te keer dat sy die intubasiepype uitkom.
“Sy het ‘n sekondêre infeksie opgedoen, en daar is bloed vir toetse gestuur om te bepaal wat die beste behandeling sal wees.”
Gistermiddag het Jenny laat weet dat Gabby met dialise begin het, “haar niere kry swaar onder die infeksie en die medikasie, so die dialise het ‘n bietjie gehelp”.
Sy was steeds geïntubeer en haar bloeddruk was steeds laag.




