Editor's choiceLocal NewsNews

Konsert ten bate van Jaco Els

Trudie Myburgh en haar seun, Wikus, het gereël dat At Engelbrecht, ‘n jong sanger van Louis Trichardt, in April sal kom optree ten bate van Jaco Els om fondse in te samel om die mediese koste na Jaco se fratsongeluk te dek.

POLOKWANE – Jaco het op 23 Januarie in ‘n fratsongeluk sy bekkenbeen gebreek.

“Ons was besig met jong perde wat ons vir uithouritte wil gebruik toe my perd vir iets skrik en onrustig raak. Hy het my afgegooi en ek het op ‘n klip te lande gekom. Toe ek my oë oopmaak, het ek die blou lug gesien en ek het gedink ek was net bewusteloos van die val maar andersins piekfyn,” vertel hy ‘n paar weke na die ongeluk.

“Daar was ander ruiters by ons asook ‘n ondersteuningsbakkie. Die ruiters het vooruit gery en vir my vrou, Martie, vertel ek het geval. Ek is met die bakkie huis toe en, moeilike man wat ek is, wou ek nie dokter toe gaan nie. My heupe was baie seer, maar ek het eers ‘n week lank met krukke geloop voordat ek ingestem het om die dokter te besoek.”

Tydens sy doktersbesoek het die dokter hom ingelig dat die bekkenbeen aan die regterkant gebreek en ook van mekaar geskeur is. Die dokters het besluit om van ‘n eksterne stut (Ex-Fix-tegniek) gebruik te maak om die bekkenbeen te stut.

“Dit is soos skroewe wat hulle in my heupe insit en dan verstel. Na die prosedure het ek begin sleg voel en op my 50ste verjaarsdag, op 4 Februarie, was ek baie siek in die bed. Op 5 Februarie is ek weer na die dokter toe waar hulle gesê het die wonde lyk normaal. Op Donderdag, 11 Februarie is ek met septisemie, ‘n ernstige bakterie in my bloedstroom, gediagnoseer. In daardie stadium het ek slegs 50% nierfunksie gehad en daar was ongeveer vyf dae wat ek ‘verloor’ het omdat ek nie geweet het wat om my gebeur het nie.”

Dokters het die Ex-Fix stuktuur uitgehaal en ‘n week later was die bakterieë uit sy liggaam. Dokters het vir hom gesê dat hy huis toe kan gaan om daar verder te herstel.

Die dokters het baie sterk antibiotika vir hom voorgeskryf om enige terugslag van die septisemie te verhoed. Jaco het antibiotika ontvang, maar het intussen ‘n swelsel op sy maag ontwikkel.

“Ek is terug na die dokter en hulle het dadelik geopereer. Hulle het ‘n hematoon, oftewel abses, gevind en ongeveer 1,5 liter vloeistof daaruit dreineer. Na die operasie was ek weer vyf dae in die hospitaal. Nadat ek verlede week die dokter besoek het vir ‘n opvolgkonsultasie oor my bekkenbreuk het hy bevind dat my bekken geensins aangegroei of herstel het nie. Die uiteinde daarvan is dat as die been nie binne ses weke begin heg nie gaan hulle weer moet opereer,” sê Jaco.

Hy vertel dat hulle mediese uitgawes al oor die R180 000 is, maar dat hy ‘n goeie ondersteuningspan het.

“Ek het ‘n groot gebedsgroep wat my in hulle gebede dra. Ek glo vas ek is besig om te herstel. Daar is vreemde mense wat my kom vra of hulle vir my kan bid en ‘n kollega het ‘n nagwaak in Seshego gehou waartydens hulle vir my herstel gebid het.”

“Trudie, Wikus, en Tanya van Heerden doen so baie vir my. Ek is oorweldig oor die geldinsamelingsprojek wat hulle reël en ek is dankbaar vir almal se ondersteuning. Ek weet nie hoe om dankie te sê sodat almal kan besef hoe opreg dankbaar ek werklik is nie.

Die konsert sal op 15 April by HTS Tom Naudé gehou word. Kaartjies vir die optrede kos R70 per persoon of R700 vir ‘n tafel van 10. ‘n Ligte vinger-ete is ingesluit.

Die optrede vind plaas om 18:30 vir 19:00 en daar sal ‘n kontantkroeg beskikbaar wees. Om kaartjies te koop of vir enige navrae, kontak Trudie op 083 479 1925.

Trudie Myburgh en haar seun, Wikus, het nou gereël dat Attie Engelbrecht, ‘n jong sanger van Louis Trichardt in Polokwane kom optree om sodoende geld in te samel om Jaco met sy mediese onkostes te betaal.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button