Motaung pleit skuldig na aanval
Die verdagte wat Gillian Foster (44,) bestuurder van Bothania Hills-vakansieoord buite Mookgophong op 13 Maart met 'n hamer in 'n kritieke toestand ingeslaan het, het op 18 Maart skuldig gepleit in die Mookgophong Landdroshof.
LIMPOPO – Boiki Motaung (25), ‘n werknemer by die oord vir die laaste drie jaar, is in hegtenis geneem en het skuldig gepleit op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, sakeroof met verswarende omstandighede en motordiefstal.
Danksy die deeglike ondersoek van AO Barend van Wyk van die polisie se speurtak in Mookgophong in samewerking met oudkol. Gawie (Sakkie) Louwrens en sy span van Heritage Protection Group (HPG), is Motaung op 16 Maart by ‘n huis in Heidelberg in Gauteng in hegtenis geneem. Foster se wit Fiat Palio is by sy huis in Heidelberg gekry. Motaung het Foster in haar kantoor by die oord oorval, die rede vir die aanranding word steeds ondersoek.
Vic Steijn, eienaar van Bothania Hills sê: “Dit is ‘n groot skok en ons is dankbaar dat Foster goed aansterk.
“Hierdie is ‘n geïsoleerde voorval en die eerste keer in meer as 20 jaar wat so iets by een van die oorde in die omgewing gebeur. Ons vermoed daar het ‘n interne geskil tussen Motaung en Foster ontstaan.”
Matuang het verlede Donderdag in die Mokopane Streekhof verskyn en die saak is na Woensdag uitgestel waarna dit weer na 11 April uitgestel is vir verdere ondersoek. Weens Foster se beserings kon sy nog nie ‘n verklaring aflê nie. Foster sterk tans in die Unitas-Hospitaal in Pretoria aan.




