René vind ware liefde, verlaat Polokwane
Meeste inwoners van die stad ken René van der Merwe as die raakvatter agter al Mall of the North se promosies en spesiale geleenthede waar haar hande vir niks verkeerd staan nie. Op 3 Maart het sy ewige trou aan Manus Mouton tydens ‘n sprokiestroue op Bloubergstrand belowe en die nuwe mevrou Mouton en haar …
Meeste inwoners van die stad ken René van der Merwe as die raakvatter agter al Mall of the North se promosies en spesiale geleenthede waar haar hande vir niks verkeerd staan nie.
Op 3 Maart het sy ewige trou aan Manus Mouton tydens ‘n sprokiestroue op Bloubergstrand belowe en die nuwe mevrou Mouton en haar man het verlede week na Brits verhuis waar sy as bemarkingsbestuurder van Brits Mall aangestel is.
Sy kyk met tevredenheid terug oor haar vyf jaar as bemarkingsbestuurder van die grootste winkelsentrum in die provinsie. “Ek is baie trots om te kan sê dat ek deel van hierdie span was. Mall of the North is die Resilient Group se vlagskip, toppresteerder en die enigste in sy soort in Limpopo. Dit was vir my ‘n voorreg om daagliks deel te wees van ‘n entiteit wat so ‘n groot rol in mense se lewens speel.”
Die geheim van haar persoonlike sukses is gesetel in die winkelsentrum se beleid dat kliëntediens altyd eerste moet kom. “Beskikbaarheid en kennis van produkte is ook van onskatbare waarde om te verseker dat kliënte weer en weer terugkom,” meen sy en voeg by dat haar kreatiewe brein beslis ook gehelp het om haar dagtaak makliker te maak. “Ek het die vermoë om met ‘n klein bietjie ‘n groot verskil te maak.”
Sy sonder Sumari de Ridder, algemene bestuurder van Mall of the North uit as iemand wat ‘n groot impak op haar lewe gemaak het.
“Elke persoon saam met wie ek gewerk het, het ‘n bydrae tot my lewe gemaak. Ons het as span saamgewerk en saam hoogtes bereik. Die vertroue wat De Ridder in my gestel het, het ‘n groot invloed op my persoonlike ontwikkeling gehad. Sy laat diep spore in my hart.”
Die nuwe begin in Noordwes is ‘n nuwe droom en nuwe kans op geluk. “Die onbekende maak my bang, maar die wete dat God my daar aangestel het met ‘n doel en my met die nodige sal toerus, maak alles die moeite werd. My hart is seer om die stad te groet, maar my liggaam, siel en gees loop oor van vreugde oor my nuwe begin. Polokwane sal altyd deel van my lewe bly net soos ‘n stukkie van my hart by Mall of the North agterbly.”
Hoof foto: René Mouton sit op haar bruidegom, Manus, se skoot na hul onlangse troue op Bloubergstrand.
MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com



