2de uitklophou vir kanker
Bernadine du Preez het vir 'n tweede keer die stryd teen kanker gewen
POLOKWANE – “Ek wil net graag die goeie nuus met almal wat my ondersteun het en vir my gebid het deel, want God is so goed. My chemobehandeling was ‘n sukses en ek is in remissie.” Só het Bernadine se Facebookblad op Maandag, 4 April gelui.
Bernadine is in 2013 met servikalekanker gediagnoseer waarna sy ‘n histerektomie ondergaan het. Haar en Gert, haar destydse verloofde, se troue is onbepaald uitgestel sodat sy behandeling kon ontvang. Hulle moes die geld wat hulle vir die troue gespaar het gebruik vir die mediese onkostes.
Lesers sal onthou hulle troue het steeds voortgegaan nadat Review vir haar en Gert hulle droomtroue gereël het. Die kanker is na haar operasie en behandeling weg en sy en Gert kon as pasgetroudes hul lewens voluit begin aanpak.
In September 2015, minder as ‘n maand na hul eerste huweliksherdenking, is kanker weer by haar gediagnoseer. Hierdie keer was die kanker in haar buikarea, lewer, longe en nek.
“Ek moes weer eenmaal ‘n maand, vir ses maande, chemoterapie ontvang. Al my hare regoor my liggaam het uitgeval en ek moes vir die eerste keer in baie jare my lang hare afsny en ‘n pruik dra. Nou is ek weer in remissie en moet ek net elke drie maande gaan vir ‘n opvolgbesoek.”
Sy vertel dat Gert, al haar vriende en haar familie baie bly is oor die nuus, maar dat daar steeds ‘n baie klein knoppie in haar nek is. “Die dokter het gesê die kolletjie kanker is so bitterlik klein, mens kan dit skaars raaksien, so dis nie ‘n bekommernis om dit verder te behandel nie, maar hy word wel gemonitor.
“Dokters sê ook om my nek te sny waar die kanker is is baie gevaarlik en hulle probeer operasies vermy. Die chemoterapie het wonderbaarlik goed gewerk aangesien die kanker in baie organe was. Nou is ek skoon en my skanderings lyk baie goed,” vertel sy dapper.



