BusinessNews

‘Boere nie rede vir prysverhogings’ – Agri Limpopo

“Boere het baie min invloed op verbruikerspryse,” sê Leon Borcherds, president van Agri Limpopo. Voedelsekerheid het volgens hom twee komponente: primêre voorsiening en verbruikerspryse en dit is belangrik dat die hele bemarkingsketting moet saamwerk om bekostigbare voedsel op verbruikers se tafels te sit. “Dit is werklik jammer dat die minister gesê het boere moet nie …

“Boere het baie min invloed op verbruikerspryse,” sê Leon Borcherds, president van Agri Limpopo.
Voedelsekerheid het volgens hom twee komponente: primêre voorsiening en verbruikerspryse en dit is belangrik dat die hele bemarkingsketting moet saamwerk om bekostigbare voedsel op verbruikers se tafels te sit.
“Dit is werklik jammer dat die minister gesê het boere moet nie die droogte as verskoning gebruik om onnodige hoë pryse vir hul produkte te vra nie,” sê Borcherds na aanleiding van ’n aanmerking wat die minister van landbou, Senzeni Zokwana verlede Vrydag tydens sy begrotingsrede in die parlement gemaak het.
“As landbouers verwag ons meer insig van ons minister as om sulke gevaarlike uitlatings te maak in tye waar boere ’n oorle­wingstryd voer. Met die opmerking het die minister beslis nie die saak van die boer of landbou gedien nie.”
Hy meen van die grootste uitdagings vir produsente was nog altyd die onsekerheid oor die prys wat hulle vir produkte kry.
“Landbouers is prysne­mers en nie prysmakers nie. Die aantal individuele produsente maak dit onmoontlik vir boere om hul produk se prys te manipuleer. Lewering van produkte is gewoonlik onderhewig aan markte, verwerkers, voerkrale, vendusies en ander tussengangers waar die pryse bepaal word.”
Agri Limpopo het ’n beroep op alle rolspelers in die landboubemarkingsketting en veral op kleinhandelaars gedoen, om verlagings in landbouprodukpryse net so effektief oor te dra na verbruikers as wat prysverhogings oorgedra word.
“Die huidige droogte, onge­kende hittegolwe en haelbuie het landbou en landbouers baie benadeel. Dit het ook tot baie laer as normale volumes op markte gelei en boere se inkomste tot so ’n mate benadeel dat twyfel bestaan of alle produsente oor die mediumtermyn sal kan oorleef,” sê Willem van Jaarsveld, hoofuitvoerende beampte van Agri Limpopo.

NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button