BusinessNews

Voorste kunstenaars by vanjaar se skou

Die Polokwane Skou en Musiekfees beloof om vanjaar meer te bied veral met die oog op ‘n komedievertoning en verskeie nuwe kunstenaars wat vir die eerste keer hul verskyning op die plaaslike verhoog maak. Skou-organiseerder, Lelané van der Merwe sê besoekers moet nie die komedie­vertoning misloop nie omdat groot name soos Frank Opperman, Dowwe Dolla …

Die Polokwane Skou en Musiekfees beloof om vanjaar meer te bied veral met die oog op ‘n komedievertoning en verskeie nuwe kunstenaars wat vir die eerste keer hul verskyning op die plaaslike verhoog maak.
Skou-organiseerder, Lelané van der Merwe sê besoekers moet nie die komedie­vertoning misloop nie omdat groot name soos Frank Opperman, Dowwe Dolla en Radio Raps die lagspiere oortyd sal laat werk. Belangstellendes moet ‘n BBP-kaartjie teen R200 koop om dié vertoning by te woon.
“Vanjaar het ons ‘n opelugverhoog met Arno Jordaan wat Woensdagaand skougangers sal vermaak en plaaslike kunstenaars sal Donderdag te sien wees,” sê Van der Merwe.
Een van die hoogtepunte is Vrydagaand se verto­ning met verskeie platejoggies soos Harrison Crump, Ceezona, Vic Mash Jey Khei, Steve Group, Pitch Black Afro, Sido & Manana, Blek Cyza, Brian Q, Unleashed, DJ Tazz en Toxic Peterson wat gaan sorg dat die heupe los bly.
Saterdag se program sluit Sonja Herholdt en Tjokker vir die jongklomp in, gevolg deur André Venter, Adam Tas, Louwrens the Storyteller, Irene-Louise van Wyk en Elvis se Seun wat die middag sal optree.
Besoekers kan ook na Jesse Clegg, Francois van Coke en Beeskraal as deel van die aandprogram uitsien.
Sowat 200 stalletjies sal verversings en spesiale winskopies aanbied.
“Die pretpark sal verseker dat kinders hul op vreesaanjaende pretritte kan verlustig. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Weermag, Eskom en die Polokwane Munisipaliteit sal opvoedkundige programme aanbied en spesiale veldtogte loods,” sê Van der Merwe.
Die populêre Mev en Mej Skou vind Vrydag om 14:00 plaas terwyl fiksheid- en sterkmanentoesiaste Saterdag kan uitsien na ‘n kragmeting tussen sterkmanne en CrossFit-atlete.
Kaartjiepryse kos R40 per persoon vir Woensdag en Donderdag, R60 per persoon vir Vrydag van 09:00 tot 14:59, en R150 per persoon vanaf 15:00 tot 22:00.
Saterdag kos die kaartjies R60 per persoon of R200 vir ‘n BBP-kaartjie, wat die kaartjiehouer toegang tot die komedievertoning gee. Senior burgers moet Saterdag R40 per persoon opdok en van 12:00 die gewone prys betaal. Kinders onder 1,2 m kan gratis ingaan.
“Sekuriteit en polisie sal pal op die terrein wees om besoekers se veiligheid te verseker. Ons sal nie wangedrag duld nie en geen eie alkohol word op die terrein toegelaat nie. Drankies wat in die biertuin gekoop word, word nie buite die skouterrein toegelaat nie,” sê Van der Merwe.
Sy het besoekers herinner dat die jaarlikse Landbouskou weer saam met die skou gehou word en skougangers en plaaslike boere kan na verskeie aktiwiteite uitsien.
Beperkte uitstalruimte is nog beskikbaar. Vir meer inligting kan Van der Merwe by 072 369 0155 geskakel word.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button