Eloff Gallery volstoom aan die gang
Onder die dinamiese hand van Adri Botha het Polokwane-instelling, Eloff Gallery, ‘n nuwe baadjie aangetrek en word die kunstradisie van hierdie besigheid met flair voortgesit. Botha verduidelik dat haar aanslag wel effens van die vorige eienaar verskil, maar dat die galery steeds ‘n plek is waar kunstenaars en -liefhebbers ‘n veilige hawe kan vind. “Ek …

Onder die dinamiese hand van Adri Botha het Polokwane-instelling, Eloff Gallery, ‘n nuwe baadjie aangetrek en word die kunstradisie van hierdie besigheid met flair voortgesit.
Botha verduidelik dat haar aanslag wel effens van die vorige eienaar verskil, maar dat die galery steeds ‘n plek is waar kunstenaars en -liefhebbers ‘n veilige hawe kan vind.
“Ek fokus baie op plaaslike kunstenaars en eksklusiewe dekor wat slegs hier gevind kan word. Die dekorstukke is ook ideale geskenke en die oorgrote meerderheid daarvan is handgemaak,” verduidelik sy.
Van die plaaslike kunstenaars wat ereplekke in die gallery gekry het, is Kathryn van Schalkwyk en van haar kunsstudente.
Die jarelange Polokwane-inwoner en haar gesin het agt jaar gelede na Mookgophong verhuis waar haar man, Colin, met eksotiese wild geboer het. Die Bothas is egter nou terug in Polo-kwane en die wildboerdery gaan op ‘n plaas naby Alldays voort.
Die egpaar het drie kinders, Le-anne is ‘n onderwyser in Qatar, Dwayne ‘n finalejaarstudent in sportwetenskappe by die Universiteit van Johannesburg en Kaylyn is in graad 6 in Pietersburg Laerskool.
Botha lê klem op die feit dat die raamwerkafdeling van Eloff Gallery steeds soos onder die vorige bestuur voortgaan. Frik Snyman, gekwalifiseerde binnehuisversierder en kunstenaar, Flora Nyalungu en Alpheus Mokoele is welbekend vir hul topkwaliteit-raamwerk.


Eloff Gallery verkoop ook gete-kende drukwerk van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Sandra Pelzer en Maria van House of Maria.
“Ek woon kunskonferensies soos Sarcda-uitstallings by en koop daar werke wat ek dink mense van sal hou. Ek is ook nie bang om my eie stempel op ‘n massavervaardigde item af te druk nie en maak só kreatiewe en unieke werke.”
Dit is vir haar belangrik om ‘n wye verskeidenheid kunswerke, afdrukke en dekoritems aan te hou sodat sy iets in die galery sal hê wat in elkeen se smaak sal val.
Botha vertel dat sy haar hele lewe lank in die finansiële sy van verskeie familiesake betrokke was en dat dit nou vir haar heerlik is om iets te kan doen wat haar na aan die hart lê. Die talentvolle kunstenaar skilder ook, maar daar hang slegs een van haar skilderye in Eloff Gallery, want die res is tydens ‘n onlangse kunsuitstalling verkoop.
Hoof Foto: Marki Franken- Nuwe eienaar van Eloff Gallery, Adri Botha met ‘n oorspronklike Nic van Rensburg skildery.
MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com



