Suidskoolbloed vloei sterk in skole-oorlog
Gabrielle Smith is die wenner van ‘n ete vir twee by ‘n plaaslike restaurant, geborg deur die SANBS, tydens Pietersburg Laerskool (PLS) se gelukstrekking na afloop van die skool se bloedskenkuitdaging verlede Woensdag. ‘n Bloedskenkkliniek is in PLS se skoolsaal as deel van ‘n vriendskaplike kompetisie teen Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) aangebied om te bepaal watter …

Gabrielle Smith is die wenner van ‘n ete vir twee by ‘n plaaslike restaurant, geborg deur die SANBS, tydens Pietersburg Laerskool (PLS) se gelukstrekking na afloop van die skool se bloedskenkuitdaging verlede Woensdag.
‘n Bloedskenkkliniek is in PLS se skoolsaal as deel van ‘n vriendskaplike kompetisie teen Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) aangebied om te bepaal watter skool die meeste eenhede kan skenk.
Skenkers is aangemoedig om bloed te skenk deur elk ‘n polistireenbal wat ‘n bloeddruppel verteenwoordig met hul name op te ontvang. Dié balle is in ‘n laaigraaf wat by die skool staangemaak is, gegooi en Smith se nommer is deur PLS-hoof, Peet Bredenkamp gevang nadat die laaigraaf bo-oor hom leeggemaak is.
Die laaigraaf is geborg deur Truck and Tractor Specialist Plant, ook bekend as JCB Polokwane en die besigheid se verkoopsbestuurder, André Jocks het die balle oor Bredenkamp laat reën.
‘n Inkleurkompetisie is terselftertyd deur SANBS vir die graad 1- tot 3-leerders gehou en die drie wenners het elkeen ‘n verrassingspak, gevul met promosiegeskenke van die SANBS ontvang.
Die hoeveelheid bloed wat by elke skool geskenk is sal na afloop van Oosskool se bloedskenkkliniek wat vandag (Donderdag) by die skool plaasvind, bekend gemaak word.
Hoof Foto: Die wenners van die inkleurkompetisie is Deané van der Merwe, graad 2, Reuben Pretorius, graad 3 en Chanté Marais, graad 1.
Alet-Elize van Jaarsveld
>>alet-elize@observer.co.za




