Local NewsNews

Groot stap vir dié geliefde terapeut

Elsabé Krone gesels oor haar besluit, haar agtergrond en haar passie om ander te help.

POLOKWANE – Die naam Elsabé Krone is vir menigte onderwysers en ouers ‘n bekende naam, ‘n naam wat dikwels oplossings vir hulle bring.

Elsabé, ‘n arbeidsterapeut in die stad, het onlangs aangekondig dat sy nie meer met kinders gaan werk nie, maar meer gaan fokus op regs-medisie behandeling en ondersoeke. Review het met haar gesels oor haar besluit, haar agtergrond en haar passie om ander te help.

“Ek het in Louis Trichardt groot geword waar ek ook my skoolloopbaan voltooi het. Na skool is ek na Bloemfontein waar ek arbeidsterapie by die Universiteit van die Vrystaat studeer het. Dit was ‘n vierjaarkursus en vir ‘n jaar daarna het ek in Giyani by die Nkhensani Sendingshospitaal gewerk.”

Sy vertel sy is toe getroud en sy en haar man het na Tzaneen verhuis waar sy in Letaba by die Letaba Skool vir Gestremdes gewerk het. In daardie tyd is haar man skielik oorlede waarna sy uit die staatsdiens bedank het.

Sy en haar dogter het in 1992 na Polokwane verhuis waar sy met Wynand Krone, ‘n geskeide pa van twee seuns, getrou het. “Ek het nadat ons na die stad verhuis het as arbeidsterapeut vir Roukie Diemont gewerk en in 1996 besluit om my eie praktyk te open.”

Sy het vir die eerste 10 jaar in haar eie praktyk slegs arbeidsterapie vir kinders aangebied.

“Ek het ‘n baie groot liefde vir kinders en het baie kinders met verskeie neurologiese probleme behandel. Na die eerste 10 jaar het ek baie kursusse in die regs-mediese rigting begin neem en ek vind dit baie stimulerend. Ek voel dit is nou tyd om meer in daardie rigting te spesialiseer. Ek is nie heeltemal klaar met pediatrie nie en ek beplan om kursusse oor arbeidsterapie, veral vir kinders, aan te bied. Ek gaan ook instaan, oftewel locum, vir arbeidsterapeute in die stad wat met verlof gaan,” verduidelik sy.

In haar vrye tyd skilder Elsabé graag en sy en Wyndand is gek daarna om te reis. Hulle is albei baie lief vir die Bosveld en spandeer so gereeld moontlik tyd saam op bosvakansies.

maretha@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button