Warm aksie om Limpopo-kampioene te kroon
Na ‘n klipharde rugbyseisoen waar hoërskoolspanne regoor die provinsie kragte gemeet het om bo aan die punteleer te eindig, word die koring Saterdag finaal van die kaf geskei wanneer die Limpopo-finaal vir hoërskole by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé plaasvind. Die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging se finale rondte vir groot-, medium-, middel- en kleinskole …

Na ‘n klipharde rugbyseisoen waar hoërskoolspanne regoor die provinsie kragte gemeet het om bo aan die punteleer te eindig, word die koring Saterdag finaal van die kaf geskei wanneer die Limpopo-finaal vir hoërskole by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé plaasvind.
Die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging se finale rondte vir groot-, medium-, middel- en kleinskole beloof groot opwinding vir spelers en ondersteuners op die pawiljoen omdat die spanne vir oulaas met hul beste skietgoed vorendag kan kom.
Hoërskool Pietersburg (PHS) kompeteer in die grootskoolafdeling. Die o.15A-span draf om 09:10 op die veld teen Hoërskool Frikkie Meyer terwyl die o.14A-span om 11:30 vir Hoërskool Ben Vorster die stryd aansê. PHS se trots, die eerstespan, pak die Vossies om 15:20.
Curro Heuwelkruin se o.15A- en eerstespan het ook naam gemaak gedurende die seisoen in die kleinskoolafdeling en speel om 10:20 en 12:40 onderskeidelik teen Stanford Lake College.
Die vereniging nooi belangstellendes om die dag saam te geniet. Toegangsfooi is R20 per volwassene en R10 per kind. Leerders in skooluniform kry gratis toegang.
Story by RC Myburgh



