Johan – ‘n boemelaar met ‘n hart van goud
Elke motoris in die stad het al by 'n verkeerslig stil gehou waar iemand met 'n bordjie staan en vra vir kos, klere of donasies. Min van ons weet wie die mense is of hoe hulle daar beland het.
POLOKWANE – Review het met een van dié mense gesels om uit te vind hoe hy homself in daardie situasie bevind het.
Johan le Roux is 43 jaar oud en sê hy het in Polokwane groot geword.
Na skool het hy by ‘n staalbesigheid in die stad gewerk.”Ek het vir ‘n rukkie by die staalbesigheid gewerk maar omdat ek gereeld die skuld vir ander mense se foute gekry het, het ek bedank. Daarna het ek swartsakke verkoop, maar dit het te duur geword. Die pryse het te veel opgegaan en ek het te min kommissie verdien.
“Ek het ‘n paar jaar gelede vir die eerste keer met ‘n bordjie by ‘n verkeerslig in Bloemfontein gestaan.”
Hy vertel dat hy op ‘n goeie dag R300 maak en op ‘n slegte dag maak hy R150. Mense gee ook vir hom kos en klere wat hy sê hy bo geld verkies.
Johan staan nie elke dag by verkeersligte nie, hy werk ook twee dae ‘n week by ‘n onderneming waar hy borde spuitverf.
Hy betaal R100 per dag vir ‘n plek om te slaap en ‘n bord kos.
“Ek voel soms onveilig by die verkeerslig waar ek staan. Ek is al ses keer beroof. Soms kyk mense neer op my of hulle lag vir my, maar ek steur my nie daaraan nie,” vertel Johan.
Hy vertel dat hy baie vriende het maar dat hy nie ‘n vrou en kinders het nie. Hy wil graag ‘n meisie hê.
“Die woord huis beteken ‘n plek waar jy veilig voel. Ek het ‘n huis waar ek veilig voel en gelukkig is.”



