Groenewald in 2017 weer in hof
Dawie Groenewald en nege ander beskuldigdes het verlede Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria op verwante aanklagte op renosterstroping verskyn en die saak is tot volgende jaar uitgestel. Volgens Allison Thomson, stigter van Outraged South African Citizens Against Poaching (Oscap) wat die hofverrigtinge bygewoon het, is die saak tot 15 Junie 2017 uitgestel as gevolg …

Dawie Groenewald en nege ander beskuldigdes het verlede Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria op verwante aanklagte op renosterstroping verskyn en die saak is tot volgende jaar uitgestel.
Volgens Allison Thomson, stigter van Outraged South African Citizens Against Poaching (Oscap) wat die hofverrigtinge bygewoon het, is die saak tot 15 Junie 2017 uitgestel as gevolg van die appèl wat deur die minister van omgewingsake, Edna Molewa aangeteken word teen ‘n hofuitspraak vroeër vanjaar wat die regering se moratorium op binnelandse renosterhoringhandel tersyde gestel het.
Nadat die appèlhof glo Molewa se aansoek van die hand gewys het, het sy die konstitusionelehof genader wat moontlik ‘n invloed op die klagte teen die tien aangeklaagdes kan hê.
Volgens inligting is die tien se borgtogvoorwaardes ook aangepas en mag hulle nou oorsee reis mits hulle R20 000 ekstra borgtog betaal en reisplanne vroegtydig by die ondersoekbeampte indien.
Groenewald, sy vrou, Sariette, veearts Karel Toet en sy vrou, Marisa, veearts Manie du Plessis, Tielman Erasmus, Gys du Preez, Nardus Rossouw, Jacobus Pronk en die vlieënier, Dewald Gouws staan tereg om 1 872 aanklagte wat onder meer permitoortredings, geldwassery, onwettige jag, handel in en verkoop van renosterhorings insluit, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad in die gesig.
Intussen is verneem dat die elfde beskuldigde Paul Mathoromela oorlede is.
Die Valke se nasionale woordvoerder, Hangwani Mulaudzi was nie daarvan bewus dat die saak weer voorgekom het nie.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com



