Musiekmeester, Laurika Rauch lewer besonderse optrede
Na dekades op die verhoog kry sy dit steeds reg om haar telkens te herskep sodat die gehoor ‘n onvergeetlike musiekervaring kan beleef. Laurika Rauch se konsert Saterdagaand in die stad was gewis ‘n belewenis. Met haar bekende treffers soos ‘Bloubergstrand’ en ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’ laat sy jou op ‘n besondere manier verlang …

Na dekades op die verhoog kry sy dit steeds reg om haar telkens te herskep sodat die gehoor ‘n onvergeetlike musiekervaring kan beleef.
Laurika Rauch se konsert Saterdagaand in die stad was gewis ‘n belewenis. Met haar bekende treffers soos ‘Bloubergstrand’ en ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’ laat sy jou op ‘n besondere manier verlang na almal en alles wat jy liefhet en terugdink aan goeie ou dae of sommer net wonder oor die lewe.
Die konsert is afgesluit met haar unieke vertolking van ‘Hot Gates’ waarna sy as toegif die gehoor met ‘Ewewig en Stilte’ uit haar album, ‘Wals, Wals Willemien’, bekoor het.
Rauch het op haar beurt gesê die waarderende gehoor se reaksie was vir haar ‘n wonderlike ervaring wat sy in haar herinneringsboks sal bêre.
Die optrede wat deur Tafelronde 22 in samewerking met Davel De Klerk Kgatla Prokureurs (DDKK) as hoofborg aangebied is, se opbrengs word aan die NG Kerk Pietersburg-Noord geskenk. Medeborge is Uniclox Technologies en Rens Business Consulting.
In gesprek met immergewilde Laurika Rauch
Polokwane Observer het die voorreg gehad om ‘n eksklusiewe onderhoud met die wyd gerespekteerde Laurika Rauch voor haar konsert Saterdagaand te voer.
Werk jy tans aan ‘n nuwe album?
Ja, ek is reeds geruime tyd daarmee besig. Ek is baie opgewonde daaroor en glo dat daar ’n paar verrassings gaan wees. Ons beplan om dit in die tweede helfte van die jaar vry te stel, maar wil eers seker wees dat dit heeltemal klaar is voordat ek ‘n datum gee.
Die SAUK se besluit om vir ‘n proeftydperk 90% plaaslike musiek te speel is verblydend, maar is daar genoeg substansie sonder om dieselfde liedjie oor en oor te herhaal?
Dit is prysenswaardig. As ek dink aan die liedjies met meriete wat oor die jare verskyn en net eenvoudig in die niet verdwyn het, om elke keer plek te maak vir buitelandse treffers, dink ek dat wonderlike verrassings hieruit kan spruit. Solank as wat die programopstellers ondernemingsgees het en musiek in die argiewe gaan soek wat nie voor die hand liggend is nie, kan lieflike dinge hieruit spruit. Dink ook aan ons anderstalige landsgenote: miskien sal ons nou meer vertroud raak met die musiek van die ander nege tale en dit leer ken en liefkry?
Dink jy bogenoemde besluit het met verkiesingsbeloftes te doen?
Moontlik, maar ek gee nie eintlik om nie. Solank as wat die plaaslike musiekindustrie ‘n hupstoot kry, maak dit nie vir my saak wat die beweegrede is nie.
Wat is tog die probleem met Afrikaanse musiek en – kunstenaars as vyf van die liedjie se woorde bestaan uit bokkie, ek, jy, sokkie en vanaand en dit heeltyd herhaal word?
Nie alle Afrikaanse musiek klink so nie. Daardie liedjies het, volgens my, ook hulle regmatige plek. Soms is daar niks lekkerder as om net te ‘verdwyn’ in ‘n liedjie wat jou nie noodwendig laat dink of roer nie, maar wel laat dans.
Jy is ‘n veelbekroonde kustenaar. Voel die onlangse ontvangs van die Orde van Ikhamanga van die president anders?
Nee. Toekennings is ‘n eer. Dit bevestig vir ‘n kunstenaar dat jou werk en jou bydrae raakgesien word en erkenning kry, maar ’n mens voel nie anders nie. Ek het nog altyd my werk as uitgangpunt geneem en net daarop gekonsentreer.
Wat is die beste raad wat jy nog ooit van iemand gekry het?
Persoonlike raad: My ma het my aangemoedig om nie uit te stel nie (sy het so dikwels gesê van uitstel kom afstel). Professionele raad: ‘A show is as good as its links’ (hoe jy jou materiaal aanmekaar sit en hoe jy jou liedjies ineenskakel in ‘n vertoning).
Wat is jou beste raad aan jongmense?
Werk so hard as wat jy kan en werk konstant om die toppunt in jou vakgebied te bereik en na uitmuntendheid te strewe, maar moenie vergeet om te speel nie en moenie op mense trap in jou poging om bo uit te kom nie.
As jy nie ‘n kunstenaar was nie wat sou jy graag wou doen?
Ek is in die wieg gelê vir die verhoog en was al op die verhoog vandat ek baie klein was. In hierdie stadium van my lewe werk ek steeds vir die verfyning van my kuns en om elke keer vir die gehoor waarde tot hulle lewens te voeg. Ek wil niks anders doen nie.
Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com
Hooffoto: Laurika Rauch, derde van links saam met die borge. Van links is Melanie en Rodney Sanders, eienaar en besturende direkteur Rens Business Consulting, Ilse Campbell en Benno de Klerk, besturende direkteur en mede-eienaar DDKK, Sophia Hislop, besturende direkteur en eienaar Uniclox Technologies en Frank Hislop, Tafelronde 22.



