Opwinding vir Tour de Bos, nuwe snoepie
Leerders van Marné Ebersohn Akademie (MEA) het Vrydag hul tasse tuis gelaat en in hul gradespandrag aan die skool se vierde Tour de Bos deelgeneem. Kaskarre is met die hulp van ouers en borge gebou en deelnemers het in spanne van vier tot 14 lede deelgeneem. Die bane was 400 m vir graad R tot …

Leerders van Marné Ebersohn Akademie (MEA) het Vrydag hul tasse tuis gelaat en in hul gradespandrag aan die skool se vierde Tour de Bos deelgeneem.
Kaskarre is met die hulp van ouers en borge gebou en deelnemers het in spanne van vier tot 14 lede deelgeneem. Die bane was 400 m vir graad R tot 4-leerders en 1,2 km vir graad 5 tot 12-deelnemers.
Die leerders moes mekaar as bestuurders aflos. Die wenners in elke kategorie wat die afstande in die kortste tyd afgelê het, het ‘n langnaweek van Vrydag tot Maandag afgekry.
Graad R tot graad 4-leerders het net vir die pret deelgeneem en daar was nie wenners nie. In die graad 5 tot 12-kategorie was die graad 9-span die wenners.
Die skool se snoepie, wat voorheen uit die personeelkamer bedryf is, is ook geopen en is ‘n projek van die graad 11-leerders, wat dit ook gaan bestuur.
Die snoepie se nuwe naam is “Pik ‘n wyn” en volgens Magda Pretorius, graadonderwy-ser, gaan daar elke dag ‘n spesiale gereg bedien word. Sy is baie opgewonde oor hierdie inisiatief.
“Die snoepie sal nou vir die eerste keer tot sy reg kom want daar is ook meer geriewe en ruimte,” sê Pretorius.
Storie en fotos: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com
Hooffoto: Tinus Botha, Abbygale Steyberg en Ruben du Plessis, voor, met Ankia Hyman, Henna Sonnekus, Samantha Coetzee, Basie Swart en Morné Bezuidenhout, agter, is Marné Ebersohn Akademie se graad 11-span.





