Local NewsNews

Polisie trek 40 tydens misdaadbekamping vas

Voortdurende operasies wat deur die polisie uitgevoer word om misdaad te bekamp en te beveg werp goeie vrugte af nadat 40 verdagtes die naweek in die provinsie aangekeer is. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê polisie-optrede het op dorpe soos Thohoyandou, Burgersfort, Maake, Lephalale, Giyani en Namakgale gefokus en uit lede van die honde- en misdaadvoorkomingseenheid …

Voortdurende operasies wat deur die polisie uitgevoer word om misdaad te bekamp en te beveg werp goeie vrugte af nadat 40 verdagtes die naweek in die provinsie aangekeer is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê polisie-optrede het op dorpe soos Thohoyandou, Burgersfort, Maake, Lephalale, Giyani en Namakgale gefokus en uit lede van die honde- en misdaadvoorkomingseenheid en speurders bestaan.
“Veertig arrestasies is gemaak en die verdagtes wissel tussen die ouderdomme van 22 en 49 jaar. Van hulle word met ‘n reeks misdrywe soos rooftogte, verkragting, besit van dwelms en moontlik gesteelde goedere en onwettige besit van vuurwapens verbind,” sê Ngoepe.
Agt televisies, drie motors, tien selfone, dwelms en dagga, twee vuurwapens en R12 000 kontant is gekonfiskeer. “Die bedrag van die items uitsluitend die voertuie is ongeveer R166 000. Die voertuie, ‘n Mercedes-Benz, Toyota-bakkie en Toyota Corolla se waarde word op R640 000 beraam,” sê Ngoepe.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba sê die betrokke eenhede doen goeie werk om misdadigers aan die pen te laat ry. “Booswigte kan nie vir die polisie bly wegkruip nie. Die mans en vrouens in blou volg elke moontlike leidraad op om arrestasies te verseker. Ek wil lede van die gemeenskap aanmoedig om dadelik alle verdagte persone of aktiwiteite aan te meld sodat die polisie vinnig kan reageer. Wanneer mense dink die polisie reageer nie spoedig genoeg of tree nie reg op nie, moet hulle dit by die naaste stasiekommissaris of groepbevelvoerder aanmeld,” sê Ledwaba.
Die verdagtes sal in verskeie howe regoor die provinsie verskyn.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto’s: Verskaf

Hooffoto’s: Die polisie het tydens ‘n operasie op verskeie gesteelde goedere beslag gelê en veertig verdagtes is gearresteer. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button