Sogenaamde slagoffer van ontvoering in pekel
Berdine Ronel Jordaan wat verlede Woensdag kwansuis saam met haar vyfjarige dogter en 15-jarige susterskind in Ladanna ontvoer is, is die volgende dag deur die Limpopo Valke op aanklagte van regsverydeling, ontvoering en dwarsboming van die gereg gearresteer en het reeds Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn. Die saak is tot volgende Maandag uitgestel terwyl …

Berdine Ronel Jordaan wat verlede Woensdag kwansuis saam met haar vyfjarige dogter en 15-jarige susterskind in Ladanna ontvoer is, is die volgende dag deur die Limpopo Valke op aanklagte van regsverydeling, ontvoering en dwarsboming van die gereg gearresteer en het reeds Maandag in die Polokwane Landdroshof verskyn.
Die saak is tot volgende Maandag uitgestel terwyl sy in aanhouding bly. Sy sal na verwagting Maandag om borgtog aansoek doen.
Limpopo Valke se woordvoerder, Matimba Maluleke sê hulle het aanvanklik ‘n oproep van Jordaan se man ontvang wat beweer het dat sy vrou en die twee kinders deur onbekende persone in ‘n swart BMW in Ladanna ontvoer is.
“Die slagoffers se motor is in die parkeerarea van dokterspreekkamers in Doornkraalstraat gevind waarna die ondersoek ons uiteindelik na ‘n huis in Musina gelei het. Die polisie het die drie in ‘n hangkas waar hul weggekruip het, gevind. Ons kan nog nie sê wie se huis dit is of wat hul verbintenis met die huiseienaar is nie. Daar is baie vrae waarvoor ons self antwoorde soek. Die huis in Musina en die beweerde BMW se betrokkenheid is deel van die raaisel,” sê Maluleke.
Hy sê nadat hulle gevind is, is Jordaan ondervra en die polisie het besef dat daar blykbaar geen ontvoering was nie, maar dat Jordaan volgens beamptes die 15-jarige meisie ontvoer het.
“Die meisie se ma het glo nie geweet sy is saam met Jordaan nie en het ook nie toestemming gegee dat sy saam met haar mag ry nie. Die rede waarom sy die 15-jarige glo ontvoer het, vorm ook deel van die ondersoek,” sê hy.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Jordaan se voertuig is verlede week in Doornkraalstraat gevind na die beweerde ontvoering.



