Alzheimers: Leer om in die oomblik te leef
Al het 'n menigte van Mokopane se inwoners 'n familielid wat aan Alzheimer's ly is daar steeds min mense wat werklik die eise en hartseer van die gevreesde siekte verstaan.
MOKOPANE – Albei my grootouers is ‘n paar jaar terug met Alzheimer’s gediagnoseer, maar ek is bevoorreg, want my oupa vier vanjaar sy 88ste lewensjaar en my ouma haar 86ste. Hulle is al vir meer as 60 jaar in die eg verbind en al erken hulle ons nie meer nie, is hul verlore sonder mekaar.
My ma, Inalie Potgieter, het vir hulle ‘n lieflike huis in Dewetsdorp ingerig en só hou sy ‘n wakend oog oor die twee.
Sy beskryf Alzheimer’s as volg: “Probeer om water in jou hande te hou. Wat jy ookal doen, dit syfer stadig weg – dis hoe dit voel om ‘n ouer/ouers te beleef wat aan Alzheimer’s ly. Jy probeer behou, jy probeer dat hul onthou, jy probeer wié hulle was, vasvang, maar hulle glip net verder weg. ”
Aanvanklik is ‘n mens getraumatiseerd en dan is jy desperaat om die proses te keer. Jy sal enigiets probeer. Daar is medikasie wat help, maar dis onomkeerbaar. Later leer jy en kry vrede.
Jy leer om sewe keer binne een gesprek dieselfde vraag te antwoord asof jy dit vir die eerste keer antwoord; om aan die gesprek deel te neem, al maak dit nie sin nie; om hulle nie reg te help as hul verkeerde stellings maak nie, want dis hulle werklikheid; om geskrewe instruksies oral te los; dat roetine vir hulle ontsaglik belangrik is; dat enige verandering hulle emosioneel omver werp; dat hul uiters sensitief is vir spanning, stemtoon en atmosfeer; dat die tempo van alle aktiwiteite halveer.
Jy leer, bo alles, dat alle mense, siek of gesond, die taal van liefde verstaan en dis dan al taal wat jy moet gebruik.
Met deernis, geduld en respek omvou jy hulle met liefde, jy hou hulle fisies vas, streel hul arms, gee drukkies.
Om in die oomblik te leef,’ kry vir jou nuwe betekenis, want dis al wat hulle het,vyf minute terug is vergete en die vermoë om vooruit te dink, is weg. So, jy probeer vir hulle hiérdie oomblik vul met geluk, met goedvoel.
Jy verlang na wie hul was terwyl jy by hul is. Jy rou oor die wegwees van vaardighede, bekwaamheid, emosionele intelligensie waarmee hul by uitstek geseënd was. Lag met ‘n traan word ‘n reddingsboei. Dit breek jou hart dat die water wegsyfer, maar iewers skuil die essensie van wie hulle was, nog. En jy kan dit onthou. Daardie kosbare water het jy jou lewe lank ingeneem. Daarom eer jy hulle, versorg jy hulle en het jy hulle net lief.
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za



