Jordaan uit op borgtog na beweerde ontvoering
Berdine Ronel Jordaan wat onlangs kwansuis saam met haar vyfjarige dogter en 14-jarige susterskind in Ladanna ontvoer en later in ‘n huis in Musina gevind is, is Maandag op R2 000 borgtog in die Polokwane Landdroshof vrygelaat. Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke sê sy is onder streng borgvoorwaardes vrygelaat, maar kon nie daaroor uitbrei nie. ‘n …

Berdine Ronel Jordaan wat onlangs kwansuis saam met haar vyfjarige dogter en 14-jarige susterskind in Ladanna ontvoer en later in ‘n huis in Musina gevind is, is Maandag op R2 000 borgtog in die Polokwane Landdroshof vrygelaat.
Limpopo Valke-woordvoerder, Matimba Maluleke sê sy is onder streng borgvoorwaardes vrygelaat, maar kon nie daaroor uitbrei nie. ‘n Bron het gesê een van die voorwaardes is glo om geen kontak met die twee kinders te hê nie. Jordaan se biologiese dogter is glo tans in haar pa se sorg.
Sy sal weer in September in die hof verskyn.
Jordaan staan tereg op aanklagte van regsverydeling, ontvoering en dwarsboming van die gereg nadat sy dieselfde dag as die beweerde ontvoering gearresteer is.
“Die ondersoek het daarop gedui dat sy oor die ontvoering gejok en na bewering self vir die 14-jarige meisie se ontvoering verantwoordelik was,” sê Maluleke.
Maluleke het voorheen gesê die slagoffers se motor is in die parkeerarea van dokterspreekkamers in Doornkraalstraat gevind waarna die ondersoek die Valke uiteindelik na ‘n huis in Musina gelei het waar die polisie die drie in ‘n hangkas gevind het waar hul glo weggekruip het.
Nadat hulle gevind is, is Jordaan ondervra en die polisie het besef dat daar blykbaar geen ontvoering was nie, maar dat Jordaan volgens beamptes die 14-jarige meisie ontvoer het.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Berdine Jordaan is Maandag op R2 000 borgtog vrygelaat. Sy is van ontvoering, regsverydeling en dwarsboming van die gereg aangekla.



