POLOKWANE – Buiten die gebruiklike postuum-toekenning wat aan die familie van dr. Bertie du Plessis oorhandig is, is beide die De Blanché-broers, Mike en Jack, vanjaar tydens die skool se Aand van die Sterre vereer.
Die oudste van die twee, Mike, het in 1954 aan Hoërskool Pietersburg matrikuleer en ‘n B.Com-graad deur Unisa verwerf.
Hy word in 1956 as klerk by die destydse United Bougenootskap aangestel en tree, na ‘n roemryke loopbaan, in 1991 as Adjunk Uitvoerende Hoof van Absa af.
Sy broer, Jack, matrikuleer in 1963 aan Hoërskool Pietersburg en begin ‘n lewenslange verbintenis met Nedbank as ‘n klerk in die plaaslike tak.
Hy tree direk na skool as Hoofuitvoerendebeampte van Nedbank in. Hy voltooi verskeie gevorderde bestuursprogramme, die mees noemenswaardigste die een by die Harvard Universiteit in die VS.
Met ontvangs van hul toekenning was beide broers dit eens dat die vaste basis wat PHS vir hulle gelê het ‘n groot bydrae tot hul suksesvolle loopbane gelewer het. Hulle was vol lof vir hul alma mater en is dankbaar dat die skool steeds fenomenale groei toon.
Die teenwoordigheid van al sewe Mike en Jack se susters het die aand vir hulle nóg meer spesiaal gemaak. Al nege die De Blanché-kinders was in PHS.
Postuum-toekenning: Wyle dr. Bertie du Plessis. Vanjaar se postuum-toekenning is aan die broer van dr. Bertie du Plessis, Balti du Plessis, oorhandig.
Dr. du Plessis word in 1967 die eerste leerling in die skool se geskiedenis om ses onderskeidings in matriek te behaal. Hy verwerf na skool ‘n doktorsgraad in teologie en ontvang internasionale erkenning vir sy tesis oor Nuwe Testamentstudies.
As strategiese kommunikasie-konsultant stig hy ‘n maatskappy, Mind Pilot, waar hy as mentor vir maatskappye soos Media24 optree. Hy was ook ‘n gesogte skrywer en skilder. Die Aand van die Sterre word sedert 2003 deur PHS aangebied.
Deur die jare is bekendes soos dr. Van Zyl Slabbert, Victor Matfield, Pieter Pieterse, Lyndon Ferns en Marina van Eeden al op dié wyse vereer.




