NewsSchools

Kom kuier saam by Oosskool se Kontreifees

Twee pretdrawwe, ‘n pretfietsrit, 4×4-kursus, damestee en osbraai is maar van die heerlikhede wat Saterdag vir deelnemers by Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se Kontreifees wag. Om 06:30 skop die dag se aktiwiteite af wanneer drawwers aan die groot 2-in-1-pretdraf by die skool wegspring. Dié pretdraf is ‘n padwedloop wat deur die Polokwane Atletiekklub gereël word en …

Twee pretdrawwe, ‘n pretfietsrit, 4×4-kursus, damestee en osbraai is maar van die heerlikhede wat Saterdag vir deelnemers by Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se Kontreifees wag.
Om 06:30 skop die dag se aktiwiteite af wanneer drawwers aan die groot 2-in-1-pretdraf by die skool wegspring. Dié pretdraf is ‘n padwedloop wat deur die Polokwane Atletiekklub gereël word en deelnemers kan aan ‘n 5- of 10 km-wedloop deelneem. Alle deelnemers wat nie aan ‘n klub behoort nie, moet tydelike lisensienommers teen R30 aanskaf. Koste is R30 per persoon vir die 5 km en R50 per persoon vir die 10 km. Inskrywings en registrasie vind Vrydag van 17:00 tot 19:00 op Oosskool se sportterrein plaas en laatkommers kan nog Saterdag van 05:00 tot 06:15 inskryf.
Om 07:00 vind ‘n pretfietsrit asook die klein pretdraf by die Polokwane Wildreservaat plaas. Fietsryers kan oor 8- of 16 km deelneem, terwyl ‘n 3- of 5 km gedraf of -stap kan word waarvoor R20 opgedok moet word.
Om 08:00 is dit tyd vir die hardebaarde om nader te staan wanneer BB Auto ‘n 4×4-kursus by die Polokwane 4×4-baan teen R500 per voertuig aanbied. Daar is beperkte plek beskikbaar en belangstellendes moet spoedig Glen Groenewald by 082 441 8149 skakel.
‘n Damestee vind om 13:00 in die skoolsaal plaas en kaartjies kos R150 per persoon. Voormalige Polokwane-inwoner en Kokkedoorwenner, Johnny Hamman lewer ‘n kookdemonstrasie en plaaslike gesondheidraadgewer, Christine Venter gesels oor gesonde eetgewoontes en die gevare van suiker.
Terwyl ma’s die damestee bywoon, kan leerders kolwyntjies teen R10 elk by Kekkel en Kloek versier.
Die dag word om 18:00 met ‘n gesinsvriendelike osbraai teen R250 per persoon afge­sluit. Anna Davel, Mathys Roets en Matthys Maree verskaf vermaak en ‘n kontantkroeg is beskikbaar. Tydens die osbraai sal ‘n oud-Osiebond gestig word en belangstellendes kan Andri Weyer by 082 578 2385 hieroor skakel.
Die Kontreifees is ‘n geldinsamelinginisiatief ten bate van die opgradering van die skoolgeboue en -terrein.

Storie:Alet-Elize van Jaarsveld
>>alet-elize@observer.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button