Local NewsNews

Beeste wreed afgemaai vir vleis

Beesboere van vyf plase noord van die stad is uiters ontsteld en boos omdat veediewe nie net die afgelope drie weke hul beeste wreedaardig afgemaai het nie, maar omdat die polisie skynbaar ook sloer om op te tree. Sowat 16 beeste is reeds op plase in die omgewing van Fort Klipdam naby Rita se Brug …

Beesboere van vyf plase noord van die stad is uiters ontsteld en boos omdat veediewe nie net die afgelope drie weke hul beeste wreedaardig afgemaai het nie, maar omdat die polisie skynbaar ook sloer om op te tree.
Sowat 16 beeste is reeds op plase in die omgewing van Fort Klipdam naby Rita se Brug op die N1-noord deur veediewe doodgemaak en van vleis gestroop. Al tekens van die slagting is die binnegoed, bene, vel en kop van die dier wat oorbly.
‘n Boer van die omgewing wat verkies om anoniem te bly sê haar beeste is verlede Sondagaand deur diewe uit die kraal gejaag en op ‘n buurplaas gevind. “Toe ons die beeste terugjaag het ek agtergekom een is weg. Ek het op die dragtige koei se karkas met die fetus in die kraal afgekom,” sê sy ontstoke.
Woensdagaand was die boer se honde onrustig. “Ons het weer ondersoek ingestel en die beeste is weer uit die kraal gelaat. Nog ‘n dragtige koei is geslag en ‘n sak agtergelaat. My man het die spoor geneem en op een van die koei se blaaie afgekom,” sê sy.
“Veediewe laat gewoonlik beeste uit die kraal en keer een vas. Hulle gryp die dier aan die stert en sny die haksenings af sodat hy nie kan loop nie. Dan kap hulle hom met ‘n byl oor die kop en begin slag,” sê sy.
‘n Saak is na die eerste voorval by die polisie aangemeld en beamptes was op die toneel, maar het glo gesê die veediefstaleenheid moet die saak hanteer.
“Die veediefstaleenheid was nou nog nie op die plaas nie. Ons het al bewysstukke vir die polisie gegee en ek sit nou nog met die blad as bewys in my vrieskas.”
Die boer het minstens R20 000 se skade gely en vier buurplase het ook onder veediewe deurgeloop waar dieselfde modus operandi gevolg is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe is bewus van die voorval en sê die polisie weet hoe een van die verdagtes lyk en dat hy en sy makkers moontlik van Mankweng is. “Ons volg alle leidrade noukeurig op en doen ‘n beroep op die gemeenskap om met inligting na vore te kom wat tot die rampokkers se arrestasie kan lei.”
“Ons het die afgelope paar maande verskeie mense aangekeer en veediefstal het daarna begin afneem. In meeste gevalle word veediewe met lewende hawe betrap en net in enkele gevalle word vee op die plase doodgemaak en die vleis verwyder.”
Hy het ‘n beroep op betrokkenes gedoen om die hoof van die provinsiale veediefstaleenheid, Alpheus Mokale by 082 565 6524 met inligting te skakel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Bylkapmerke aan die koei se kop. 

Links: Die dragtige koei is Woensdagaand doodgekap en die vleis gestroop.
Links: Die dragtige koei is Woensdagaand doodgekap en die vleis gestroop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button