Juanita Marx meer as net ‘n oor wat luister
Haar werk by die skole behels berading van leerders.
POLOKWANE – Met meer as 14 jaar onder haar naam by Hoërskool Pietersburg en ander skole, spog Juanita Marx nie sonder die nodige agtergrond dat sy nie meer geskok kan word deur wat mense haar vertel nie.
Sy vertel dat leerders van alle skole basies met dieselfde probleme of uitdagings sit. “Daar is nie een skool wat erger is as die ander nie, al die skole het dieselfde probleme en dit is ewe erg in al die skole al maak mense soms of party skole erger is as ander,” vertel sy.
Sy vertel dat daar veral leerders is wat sukkel met dwelm misbruik, mishandeling, trauma tydens roof-en huis inbrake en selfs dinge soos verkragting en leerders wat baie aggressief is en gedragsprobleme het.
Haar raad aan ouers is dat hulle hul kinders moet leer ken en die oomblik wat hulle agterkom dat daar ‘n verandering in die kind se gedrag is, en hulle nie kan verduidelik waar dit vandaan kom nie, dat hulle daaraan moet dink om die skool te kontak. “Veral wanneer die leerder nie wil praat oor wat pla nie sal dit die geskikte tyd wees om dalk ‘n afspraak te maak. Dis soms net dat leerders nie met hul ouers wil praat nie en dis waar ek inkom,” vertel sy.
Wanneer sy nie besig is met berading nie, hou sy baie van houtwerk, en verf. “Ek lees ook baie en is mal daaroor om tyd saam met my kinders te spandeer. Maar een ding maak ek ‘n punt van en dit is om my werk by die werk te los en nie huistoe te vat nie.” vertel sy.
Aan leerders wat graag eendag haar tipe werk wil doen vertel sy dat hulle regtig ‘n sterk persoonlikheid moet hê en dat iemand met ‘n sagte hart nie maklik die werk sal kan doen nie. “Jy moet kan luister bo alles,” vertel sy.
Aan ouers vertel Marx dat dit nie beteken daar is iets fout omdat ‘n leerder hulp nodig het nie. “Dis nie ‘n teken van swakheid nie, Die feit is dat die lewe gebeur met ons kinders en soms is dit net nodig dat hulle iemand het om mee te praat of iemand wat net luister,” vertel Marx.



