Reg bewys na 12 jaar
Die saak, wat 12 jaar gesloer het, het 'n tol op voormalige Senior Superintendent in die Polokwane Verkeersdepartement, Hennie Retief, geëis.

POLOKWANE – Hennie Retief is verlig dat geregtigheid uiteindelik na 12 twaalf jaar aan die deur kom klop.
Retief se saak teen die verkeersdepartement is in 2012 van die hand gewys maar sy prokureur het hom oorreed om ‘n appèl aan te teken en hy het die saak gewen.
Hy was in 2004 ‘n Senior Superintendent in die Polokwane Verkeersdepartement, ‘n posisie wat met talle jare se ondervinding gepaardgaan.
In dié jaar het hy aansoek gedoen vir ‘n bevorderingspos in dieselfde departement.
In terme van die vereistes van die pos, was Retief beide ervare en gekwalifiseer. Ten spyte daarvan is ‘n ander persoon, met minder kwalifikasies as deel van die departement se regstellendeaksieproses aangewys.
Retief het toe die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie genader.
Die saak is uiteindelik na die Arbeidshof verwys, waar daar in 2012 nie in hul guns bevind is nie.
Retief en sy prokureur het hierna appèl aangeteken en die Arbeidsappèlhof het bevind Retief moes inderwaarheid bevorder geword het gegewe sy kwalifikasies en ervaring. Die hof het ook bevind die departement het sy magte misbruik.
Hulle het hierna besluit om die arbitrasie deur te voer nadat, volgens De Villiers, die verkeersdepartement nie wou saamwerk nie.
Die departement het besluit om te skik.
“Dit is ‘n oorwinning vir reg en geregtigheid,” het De Villiers gesê.
Retief, wat nou ‘n pensioenaris is, was duidelik verlig met die uitkoms. Die saak, wat 12 jaar gesloer het, het ‘n tol op hom geëis.
“Om deur so iets te gaan is verwoestend maar ek het nooit moed opgegee nie. Ek het voortgegaan en elke dag gebid,” sê hy.
Die munisipaliteit het bevestig ‘n hofbevel is in Retief se guns uitgereik en die besonderhede daarvan is vertroulik.




