Local NewsNews

Flip Benade: ‘n grote val

Die geliefde inwoner en welbekende besigheidsman, Phillipus Andrias (Flip) Benade, se afsterwe het ‘n groot leemte gelaat, nie net vir sy familie nie maar ook in die sakewêreld.

POLOKWANE – Hy was veral bekend as die eienaar van South-Gate Country Lodge waar hy al sy liefde en passie ingestort het tot en met sy dood verlede Donderdag.
Sy gesin beskryf hom as ‘n dromer wie kans gesien het vir alles in die lewe.
Een van sy drome was om eendag ‘n losieshuis te besit en op 3 November 1993 het hierdie droom gerealiseer toe South-Gate Country Lodge sy deure, toe nog met slegs drie kamers, geopen het. Daarby het die kafee en padkafee (roadhouse) ook sy deure oopgemaak vir sake.
Kort voor lank het South-Gate Country Lodge tot so ‘n mate gegroei dat daar nog kamers, ‘n vulstasie, drankwinkel en konferensiegeriewe bygevoeg is.
Buiten South-Gate Country Lodge het Benade ook baie met eiendom gespekuleer. Hy het sy eerste dorpsontwikkeling, wat ‘n reuse sukses was, in 2009 gedoen.
Flip word deur sakemense as ‘n “plat op die aarde mens” beskryf. Hulle sê vir hom was niemand te arm, te oud, te klein of nie goed genoeg om mee te gesels of iets voor te doen nie. Sy hand was altyd oop vir die minderbevoorregte mense, veral toe hy in die posisie was om ander te kan help.
In ‘n brief beskryf die familie hom as ‘n man wie kanse gevat en het nooit getwyfel het as hy besluit het om iets te doen nie.
Hy en sy vrou, Fransien, was optimisties oor die lewe en was altyd dankbaar vir alles wat hulle gehad het en ontvang het.
“South-Gate Country Lodge was sy droom en was een van die eerste lodges in die stad wat oop gemaak is in November 1993. Saam het South-Gate en die nuwe regering die nuwe era aangepak en hy het baie vriende gemaak en goed besigheid gedoen. Kliënte se tevredenheid was baie belangrik vir hom,” vertel die familie.
Sy dogter, Louisa Benade-Massyn vertel aan Review: “My pa het tussen 1993 en 2003 twee groot opehartoperasies ondergaan, steeds het hy nie teruggestaan vir harde werk nie. Hy het sy eie laaigraaf, tipper en drie-tonner bestuur en hy het self gras gesny voor en langs die lodge.
“Hy het ons paaie voor die lodge skoon gehou en daar moes daagliks vullis opgetel word. Hy het altyd vir ons gesê sy werk was sy vakansies. Hy het dit half as tydmors beskou indien die familie vir ‘n week sou weggaan met vakansie. Hy is op Donderdag, 3 November na Onse Hemelse Vader, presies 23 jaar nadat hy sy droom bewaarheid het om ‘n losieshuis te begin. God het hierdie dag gekies omdat dit ‘n spesiale betekenis gehad het”.
In ‘n brief skryf sy:
“Pa, ons is ongelooflik lief vir jou, jy het ons altyd plat op die aarde gehou en nooit ‘n snob geword nie! Jy het nie op mense neergesien nie, al het jy soveel bereik in die lewe! Soos Jurie sê, pa was sy anker, pa wou altyd nog iets doen, pa het nooit tyd gehad vir vakansie nie, en vandag is Jurie dieselfde. Pa kan baie trots op hom wees. Hy het regtig in sy pa se voetspore gevolg. Pa sal elke sekonde in ons harte wees. Mooi bly tot ons mekaar weer sien. Lief vir pa”.
Sy begrafnisdiens is Maandag by South-Gate se saal gehou. Die familie bedank almal vir hul ondersteuning.
riana@nmgroup.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button