‘Vreemde wese’ iets van verlede
Diegene wie inspirasie soek kan gerus die plaaslike boekskrywer, Dalené van Wyk, se boek, Die Alien In My Lyf, lees.
POLOKWANE – Die boek is veral gemik op mense wie met kanker gediagnoseer is of wie ‘n geliefde het wie tans met ‘n kankerstryd worstel.
Dit is Dalené se eerste boek wat sy neergepen het en daarin vertel sy van haar eie stryd met dié dodelike siekte. Sy is met borskanker gediagnoseer en dit het haar sowat drie jaar geneem om die siekte baas te raak. Na haar herstel was sy steeds genoodsaak, vir die wis en die onwis, om te voorkom dat die kanker sal terugkeer, om medisyne vir nog sowat drie jaar te neem.
“Die boek is daar om mense wie ook aan kanker ly te bemoedig om nie moed op te gee nie en om te aanhou glo vir beterskap,” vertel sy.
Dalené se storie is van ‘n mens wie weier dat kanker die oorhand kry, nie net fisiek nie maar ook geestelik.
Die stryd en opoffering wat met haar behandeling gepaard gegaan het kon haar nie van stryk af bring nie.
Sy is ‘n passievolle musiekonderwyser by Curro Heuwelkruin waar sy vir die laerskoolkinders klasgee. Selfs deur haar behandeling het Dalené geweier om te gaan lê en het vasbeslote nog klas gegee. Sy het wel ‘n paar weke uit die behandeling van sowat drie jaar lank tyd afgeneem om te herstel soos wat die chemobehandeling haar gestel afgetakel het om die kankerselle teen te werk.
“Die boek het ook die lig gesien danksy die ondersteuning en liefde van my wondelike man, Stefan, wie my steunpilaar in die lewe is. En ook my seun Francois wie my deur die tyd steeds gehelp het dat ek my vinger op die pols in die lewe kon hou,” sê sy.
Die Alien In My Lyf vertel van haar ervarings gedurende haar behandeling wat sy soos ‘n ruimtereis beskou, met die aliens (kanker) as die vyand wat oorwin moet word.
“Ek het tydens my ervarings van die chemobehandelings en selfs na ek deur die dag klasgegee het, notas vir my boek bymekaar begin maak. Die boek het uiteindelik sowat ses maande geneem om saamgestel te word,” vertel Dalené.
Sy sê die boek word ook opgedra aan haar Skepper want haar genesing van kanker het haar oortuig dat haar tyd hier op aarde nog nie voltooi is nie.
Sy het besef dat dit die Here se doel is dat sy hierdie stryd moes oorwin en dat sy nog deel van Sy plan is.
“My wens is om die boek veral onder kankerlyers te versprei sodat ek vir hulle ‘n teken van hoop en geloof kan bring in hulle stryd,” verduidelik sy.
“Al het ek kanker oorwin, voel ek steeds gestroop van my waardigheid.
“Ek besef na hierdie ervaring is my lewe omvattend verander, veral wat my bewustheid rakende gesondheid aanbetref.
“Ek het ‘n tweede kans in die lewe gekry en ek gryp dit met alles wat ek het aan.
“Voor die kanker was ek ‘n gesonde mens wie nooit siek geword het nie, nou is ek meer as ooit bewus hoe ek na my gesondheid omsien.”
Dalené beplan om haar ‘gesond-word’-boek op ‘n later tydstip meer omvattend te skryf.
“Tydens die behandeling deur die chemoterapie waar ek al my hare in die stryd verloor het, moes ek deur die tyd ‘n pruik dra. Ek was vir sowat ses maande sonder hare en my gesin se humorsin het my deur hierdie moeilike tyd opgewek. Ons almal het ‘n beurt gehad om my pruik te dra. Dit het gewis gehelp deur die behandeling,” verduidelik sy.
Verder dra sy die boek aan almal wie haar gehelp het op, veral haar familie en kollegas by Heuwelkruin, die leerders en hul ouers.
Vir navrae oor haar boek kan lesers ‘n e-pos aan haar stuur by dvanwyk612@gmail.com.



