Bejaarde egpaar van stad herleef angswekkende huisroof
Die rower se aggressiewe oë en lang silwer pistool wat hy roekeloos rondgeswaai het en vir die geringste beweging op Hennie Lindeque (92), sy vrou, Rita (83), hul dogter, Anita en kleindogter, Sanet gerig het, is iets wat hy nooit sal vergeet nie. Die Lindeque-gesin is die aand van 19 Desember by Anita se huis …

Die rower se aggressiewe oë en lang silwer pistool wat hy roekeloos rondgeswaai het en vir die geringste beweging op Hennie Lindeque (92), sy vrou, Rita (83), hul dogter, Anita en kleindogter, Sanet gerig het, is iets wat hy nooit sal vergeet nie.
Die Lindeque-gesin is die aand van 19 Desember by Anita se huis in Randburg deur twee gewapende mans vir meer as drie uur aangehou. Hennie en Rita is sedert 2002 inwoners van Polokwane en het by Anita gekuier.
“Ons was omstreeks 21:00 op pad bed toe. Rita was in die badkamer en Anita het gaan kyk of sy klaar is. Ongeveer 15 minute later het ek ‘n geskuifel in die gang gehoor en die kamerdeur oopgemaak. My vrou het voor gestap met ‘n man agter haar wat ‘n pistool teen haar kop gedruk het. Agter hom was Anita en Sanet met hul herdershond aan ‘n wurgketting met ‘n tweede gewapende man agter hulle,” sê Hennie. Die skurke wat klapmusse gedra het, het toegang tot ‘n venster in die sonkamer gekry nadat hulle die palissadeheining oopgebuig het,” sê Hennie.
Die rowers het Sanet beveel om die hond te kalmeer en dat hulle almal geskiet sal word as die hond vrygelaat word waarna hulle in die gastekamer ingeboender is en op die vloer moes sit. Rita is toegelaat om op die bed te lê.
“Die man wat saam met ons in die kamer was, het die pistool op ons gerig en sy vinger op sy mond gesit as aanduiding dat ons moet stilbly. Ek het heeltyd gebid dat hulle ons nie moet doodmaak nie. Die skurke was groot manne en nie een van ons het ‘n kans gestaan nie. Ons moes ons selfone, juwele en horlosies oorhandig en Anita moes tot haar oorbelle afhaal en oorhandig. Die R30 se kleingeld op my bedkassie is ook gevat, in een van my kouse gegooi en in sy sak gedruk. Ek is ook my reissak met R8 000 kontant, ID-boekies, bestuurderslisensie en voertuig se spaarsleutel kwyt,” sê Hennie.
Die booswig wat in die sitkamer rondgedwaal en die ander kamers omgekrap het, het ‘n oproep gemaak waarna twee voertuie kort daarna voor die hek gestop het. “Hulle het al ons klere in swartsakke gegooi, die televisie, skootrekenaars, klankstelsel, alles in die yskaste, kombuistoestelle en ‘n 55 bottel-wynversameling in die voertuie gelaai en gery.”
Tot die alarmstelsel se kontrolebord is uit die muur geruk en hulle het boonop ‘n afstandbeheerder vir die hek saamgeneem.
Toe die gesin besef die rowers is weg, het Sanet ongeveer 00:30 na die bure gehardloop vir hulp. Binne sewe minute was daar 11 polisiebeamptes op die toneel.
“Die rowers het ons pennieloos en sonder klere gelos. Ek het ‘n onderbroek en -hemp op my naam gehad en my vrou moes die volgende dag koopkaarte gaan stop en nuwes kry om vir ons klere te koop. Dit is die vierde keer binne drie jaar wat Anita ‘n misdaadslagoffer was. Twee van die vier kere was dit gewapende rooftogte en ander twee kere inbrake,” sê Hennie.
Hennie is bekommerd oor die gevolge van die skok omdat Rita se gesondheid nie na wense is nie. “Ek beperk die tyd wat ek nie by die huis is nie omdat ek bang is om my vrou alleen by die huis te los weens die trauma,” sê hy.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Rita en Hennie Lindeque sukkel om oor die skok van ‘n gewapende rooftog in Desember te kom.



