Misdadigers ry aan die pen
Die polisie het in die feesseisoen geen genade teenoor misdadigers getoon nie en 2 607 verdagtes is sedert 1 Desember vir verskeie misdade aangekeer. Operasie Feesseisoen het goeie vrugte afgewerp en is in samewerking met die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, munisipale verkeersdepartemente, weermag en binnelandse sake van stapel gestuur. Die polisie waarsku dat misdadigers …

Die polisie het in die feesseisoen geen genade teenoor misdadigers getoon nie en 2 607 verdagtes is sedert 1 Desember vir verskeie misdade aangekeer.
Operasie Feesseisoen het goeie vrugte afgewerp en is in samewerking met die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, munisipale verkeersdepartemente, weermag en binnelandse sake van stapel gestuur. Die polisie waarsku dat misdadigers egter nie nou gerus moet raak nie omdat wetstoepassers steeds op strategiese plekke ontplooi is en operasies steeds uitgevoer sal word.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die operasie het uit verskeie padblokkades, stop en soek-operasies, sigbare polisiëring en klopjagte oor die provinsie bestaan. “Ons het ook op grensposte en inkopiesentrums gefokus waar verdagtes vir onder meer huisbraak, moord, diefstal, roof, verkragting, bedrog, dronkenskap in die openbaar en die besit van dagga, dwelms, gesteelde voertuie en ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie vasgetrek is.” Die verdagtes sal in verskeie howe regoor die provinsie verskyn.
In totaal is 26 handwapens, twee gewere, twee AK47-aanvalsgewere, 88 rondtes ammunisie, 21 gesteelde voertuie ter waarde van meer as R5 miljoen, 52 selfone, agt televisiestelle, 21 rekenaars, nege skootrekenaars, dwelms ter waarde van sowat R200 000 en 98 vervalste items ter waarde van R163 000 gekonfiskeer.
Lede van die polisie se lugvleuel het Vrydag op onwettige sigarette ter waarde van
R258 000 by ‘n huis in uitbreiding 76 in Seshego beslag gelê.
“Die polisie het op inligting wat ontvang is gereageer en 1 720 houers sigarette gevind waarna ‘n 36-jarige verdagte gearresteer is,” sê Ngoepe. Die verdagte sou na verwagting Dinsdag in die Seshego Landdroshof verskyn het.
Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Hooffoto: Lede van die lugvleuel by 1 720 houers onwettige sigarette wat by ‘n huis in Seshego gevind is.






