Local NewsNews

Pandemonium op toneel waar nooddienswerker aangerand word

Twee verdagtes het reeds in die hof verskyn in verband met die aanranding op ER24-nooddienswerker, Gerhard Jacobs op ‘n ongelukstoneel waar ‘n ambulans op Kersdag in Seshego omgeslaan het. Jacobs is glo deur ‘n familielid van ‘n pasiënt met ‘n baksteen oor die kop geslaan en moes hospitaalbehandeling vir harsingskudding kry. ‘n Kollega en polisiebeamptes …

Twee verdagtes het reeds in die hof verskyn in verband met die aanranding op ER24-nooddienswerker, Gerhard Jacobs op ‘n ongelukstoneel waar ‘n ambulans op Kersdag in Seshego omgeslaan het.
Jacobs is glo deur ‘n familielid van ‘n pasiënt met ‘n baksteen oor die kop geslaan en moes hospitaalbehandeling vir harsingskudding kry. ‘n Kollega en polisiebeamptes op die toneel het glo ook onder omstanders en vermoedelik familielede deurgeloop.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe kon nie die voorval bevestig nie, maar ‘n polisiebron het bevestig dat twee verdagtes vroeg in Januarie in Seshego Landdroshof op waarskuwing vrygelaat is. Dit is onduidelik wat presies tot die pandenomium op die toneel gelei het.
Jacobs, wat al 13 jaar by ER24 Polokwane werksaam is, het Kersfees in die hospitaal deurgebring en is eers die volgende dag ontslaan.
“Ek is kwaad oor die aanval en wou sommer my werk los, maar is te lief vir wat ek doen. Ek het besef dat ek altyd van my onmiddellike omgewing op ‘n toneel bewus moet wees en nie dink soortgelyke voorvalle sal nie gebeur nie. Van nou af is ek bedag op enige gevare op alle tonele,” sê Jacobs.
“Toe ek by die onge­luks­toneel aankom, het die staatsambulans op sy sy gelê. ‘n Ander privaatambulansdiens was op die toneel en nooddienswerkers het reeds die ambulansman, wat in die omgeslaande ambulans was, op die draagbaar gesit. ‘n Man het onder ‘n motor se voorwiele gelê wat langs die pad gestaan het.”
Jacobs vermoed die man het stilgehou en oor die pad na die ambulans geloop wat omgeslaan het. Op pad terug na sy motor is hy dalk deur ‘n ander voertuig raakgery. “Toe ek nader stap, het ‘n man by hom (die pasiënt) gaan sit. Ek het die man wat vermoedelik ‘n familielid is ‘n paar keer gevra om te skuif sodat ek by die pasiënt kan uitkom. Met die omkyk moes ek vinnig vir ‘n vuis in my rigting koes. Nog voor ek kon keer het iemand my met ‘n baksteen oor die kop gemokker,” sê hy.
Die polisie moes blykbaar ingryp om omstanders te kalmeer. “Ek is bly ek is nie ernstig beseer nie. Dit kon baie erger gewees het,” sê hy. Jacobs is per ambulans na Mediclinic Limpopo vir behandeling geneem.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: ER24-nooddienswerker, Gerhard Jacobs is terug by die werk nadat hy op Kersdag op ‘n ongelukstoneel in Seshego aangerand is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button