POLOKWANE -Na 12 lang jare op die skoolbanke het Joané Spies haar skoolloopbaan op ‘n hoë noot afgeteken.
Sy het onder die top 1% van die nasionale leerders in Afrikaans huistaal, ingenieursgrafika en ontwerp, Engels eerste addisionele taal en lewensoriëntering in gr. 12 geëindig, wat ‘n groot eer is, en Joané getuig dat dit harde werk geverg het.
Joané was in Curro Heuwelkruin wat ‘n Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-skool is. Sy is ook onder die top 5% leerders binne die IEB (11 021 het die eksamen afgelê) wat bo 80% het vir ses vakke, asook lewensoriëntering, behaal het.
Sy is slegs een van twee leerders uit die hele Curro-groep wie hierdie prestasie behaal het.
“Ek is baie bly oor my uitslae, maar moes hard werk daarvoor,” vertel sy. “Ek kon al my aktiwiteite balanseer met goeie tydsbestuur. My leuse is nog altyd ‘hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen’.”
Haar gunstelinge vakke was wiskunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe omdat sy daarvan hou om probleme op te los met die kennis wat deur goeie onderwysers aan haar gegee is.
Van jongs af droom Joané groot en op die ouderdom van sewe wou sy graag ‘n ruimtevaarder word, maar nou gaan sy MBChB (medies) aan die Universiteit van Pretoria studeer.
Op skool was sy betrokke by kultuur en het deelgeneem aan redenaars, Tong en Taal, en Mosaïk, die laaste twee uniek aan die skool.
Sy het ook dans as ‘n buitemuurseaktiwiteit beoefen.
“Om deel te neem aan kultuur en sport en om ‘n aktiewe sosiale en gesonde akademiese lewe te hê, is baie belangrik. Jy kan nie heeltyd net studeer nie.”
Sy vertel dat behalwe haar ouers, is dr. Russel Raath, ‘n narkotiseur, een van haar rolmodelle en dat sy werk haar daagliks inspireer. Sy het ‘n goeie ondersteuningstelsel waarvoor sy dankbaar is wat haar familie, vriende en onderwysers insluit.
“Ek was betrokke by Hoop vir Kinders asook die Tough Living with Cancer (TLC) kindersaal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.
“Die kinders in beide daardie fasiliteite het my geleer dat daar waarde is aan hoop en positiewe denke in moeilike omstandighede. Hiervoor sal ek altyd dankbaar bly.
“Dit is belangrik om te besef hoe bevoorreg en geseënd ons eintlik is en om aan God dank te gee vir al ons seëninge. Sonder Hom sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie.”



