POLOKWANE – Dit is net deur die Here se genade, sê Lydia Harmse, dat sy haar 91ste verjaarsdag saam met familie en vriende kan vier.
Lydia het verlede Donderdag verjaar en haar dogter, Marjorie Davids, het die dag ekstra spesiaal gemaak deur ‘n koek-en-tee partytjie te reël.

“Die Here het my geseën met goeie gesondheid en ek voel nog jonk van gees en gesond. Dis alles deur die Here se goedheid en guns oor my lewe en daarom het ek nie tyd vir brille en pille nie,” skerts sy.
Sy voeg by dat daar nie ‘n geheime resep is vir mooi oud word nie.
“Daar is nie enige spesiale kos wat ek eet of kruie wat ek drink nie. Ek kyk maar net mooi na myself en ek rook of drink nie. Ek maak die beste van elke oomblik wat liewe Jesus vir my gee want môre is nie belowe nie. My raad vir jongmense is, leef jou lewe voluit en wees lief vir jou familie, vriende en die mense om jou,” vertel die ouma van 23 kleinkinders, 33 agterkleinkinders en drie agter-agterkleinkinders.

Gerald Harmse en sy vrou, Gloria, sê dit is ‘n groot voorreg om hul ouma se 91ste verjaarsdag saam met haar te vier.

“Hoeveel mense ons ouderdom het nog hul grootouers by hulle, daarom sê ons dankie vir die Here vir hierdie voorreg. Mammie is ‘n wonderlike vrou.

Sy het soveel liefde vir haar familie en haar hart se deur staan oop vir enige mens. Sy help haar medemens waar sy kan en ‘nee’ bestaan nie in haar woordeskat nie.
Ek is bly my dogter het die voorreg om haar oumagrootjie te ken, en ek bid dat die Here haar nog vele meer jare vir ons sal spaar,” vertel hulle.




