Die Here het ons bygestaan
Dian Fourie se ma Liana sê hulle het besef daar is fout met Dian toe hy voor 'n radio staan en die klank hardste stel en niks gehoor het nie.
POLOKWANE – Met die wat medisyne so gevorderd is deesdae, is kindersiektes nie meer so gevaarlik soos wat dit jare gelede was nie.
Tog is daar steeds gevalle wat kinders permanente letsels en skade kan opdoen as gevolg van dié siektes. Dit was die geval vir Dian Fourie (11) wat op die ouderdom van een-en-‘n-halwe jaar Duitse masels opgedoen het.
“Dian het toe hy siek was ‘n hoë koors ontwikkel. Wanneer ‘n mens hoor dat ‘n kind een van die bekende kindersiektes het, dink jy nie daaraan dat dié kind lewenslange letsels sal oorhou na die siekte nie.”
Sy ma, Liana, vertel van die hoë koors ontwikkel en hoe die haartjies in sy oor platgeval het.
“Ons het besef daar is fout toe hy voor die radio staan en die volume op die hardste stel.
“Ek en my man, Danie, het groot geskrik, terwyl Dian nie eers bewus was van die volume nie.”
Sy vertel dat dit ‘n moeilike tyd was wat toe vir haar gesin voorgelê het.
“Dian kon nie vir ons sê hoe hy voel of waar hy seer het nie, en as ek in sy skoene was, sou ek begin wonder of my ouers my nog liefhet, want skielik praat hulle nie meer met my nie. Hy kon ook nie vir ons vertel as maatjies hom seermaak nie. Ek was kwaad en hartseer. Mismoedig en depressief.”
Sy vertel dat hy deur verskillende dokters en prosesse en ondersoeke moes gaan voordat hy die kogliêre inplanting kon kry. Dié proses het ses maande geduur, ses maande waarin hulle ‘n enorme bedrag geld moes insamel.
“Ons moes R260 000 insamel vir een inplanting. Ons was deel van ‘n motorfiets-gemeenskap, Bikers that Care, en hulle het ons baie gehelp.
Twee maande voor Dian se tweede verjaarsdag, op 15 Mei 2007, het hy vir die drie-en-‘n-halfuurlange operasie gegaan.
“Dit was die langste ure in ons lewens.
“Ons het gesit en wag en elke keer as daar ‘n verpleegster verbykom, verwag jy die ergste.
“Die dokters moes gaatjies in die beentjie agter die oor boor en sou iets verkeerd loop, kon sy gesig verlam geraak het en hy sy vermoë om te praat, verloor het. Die wag was vreeslik erg.”
Dian het ook inflammasie opgedoen in sy brein en tekens van outisme en Aandagtekorthiperversteuring (ADHD) getoon.
Toe hy sewe jaar oud was, weer op 15 Mei 2012 het Dian sy tweede kogliêre inplanting gekry.
Die proses was die keer baie duurder, maar die operasie was ‘n uur korter. Liana vertel dat alhoewel hulle die keer geweet het wat om te verwag, was die wag steeds erg.
“Dit was ‘n aaklige tyd waardeur ons gegaan het.
“As ek nou terug kyk, kan ek sien hoe die Here ons gedra het.
“Ons sou dit nie sonder Hom kon doen nie, ons geloof is nie sterk genoeg nie.
“Die hele proses het ook vir my en Danie nader aan mekaar gebring. Ons is vriende, huweliksmaats en ons deel alles.”
Dokters het ook baie onlangs van Dian se stamselle geoes en weer teruggeplant.
Danie en Liana het in Augustus uitgevind dat die proses kan plaasvind.
“Hulle trek bloed en dan word dit gespin sodat die rooibloedselle geskei word van die res.
“Die witbloedselle word teruggesit in die liggaam. Dan word die stamselle uit jou vet uitgehaal. Enige persoon kan stamselle skenk.
“Dit help veral met breinbeserings en in hierdie geval is daar ‘n 50% kans om die outisme en ADHD teen te werk.
“Die resultate sal tussen drie en nege maande neem.”
Dian is in Kühl Montessori Skool en ontvang spraakterapie.
Liana doen arbeidsterapie met hom by die huis. Hy moet ook medikasie gebruik.
“Hy is eintlik ‘n maklike en gesonde kind. Sy onderwysers doen baie moeite met hom en ons help waar ons kan.
“Ek het nooit gesukkel om vir hom ‘n slaaproetine aan te leer nie.
“Hy vertrou nie enige iemand nie en mag glad nie kontaksport speel nie.”
Liana vertel dat Dian slim is in wiskunde en met tegnologie, maar dat sy spraak nog op ‘n laer vlak van ontwikkeling is.
Sy vertel dat sy en Danie, asook Dian se onderwysers hom verstaan en dat sy spraak reeds baie verbeter het.




