Tuinmaak is in sy bloed
Terwyl ander jong seuns met karretjies gespeel het, het Theunis Fourie geplant en geskoffel.
POLOKWANE – Tuinmaak was nog altyd iets waarvan hy gehou het, en na skool, het hy die liefde in ‘n realiteit omskep en landskap-argitektuur gaan studeer.
“Ek het by die Universiteit van die Vrystaat en Universiteit van Pretoria ingeskryf, Tukkies het my die geleentheid gebied om my droom na te jaag,” vertel dié Vrystater wat nou nes geskrop het in Polokwane.
Hy vertel dat sy ma en ouma gedurig in die tuin besig was, aanlegtoetse het net bevestig wat Theunis reeds geweet het, tuinmaak is in sy bloed.
“Ek het baie meer van die landskap-argitektuur gehou alhoewel ek ook planne kan teken. Ek het so twee jaar gelede by Greener Tidings Kwekery begin werk waar ek baie geleer het. Onlangs het ek my eie besigheid begin, Red Ants Landscapping and Irrigation.”Hy doen tuinuitleg, besproeiing asook instandhouding van plante.
“Die lekkerste van tuinmaak en my eie besigheid, is dat jy baie mense leer ken. Om jou eie baas te wees is ook ‘n aspek van sy werk wat hy baie geniet. Negatief, is die feit dat die natuur bepaal wat jy kan, en nie kan plant nie. As dit baie reën en daar is te veel water, moet jy aanpas, en so ook as dit droog is.”
As hy nie besig is in die tuin nie, geniet hy dit om tyd saam met vriende te spandeer.




